Die Lancaster Rif grafte.

Daaglikse verslae.

Die terrein is langs 'n ou mynhoop geleë en gedeeltelik onder 'n ou ashoop. Die ashoop dateer waarskynlik na die eeuwending. 'n Sloot is gegrawe om die ondergrondse struktuur vas te stel vir die verlenging van Paardekraal Weg. Die sloot is alreeds ongeveer vier maande gelede gegrawe.

Maandag, 18 November 1996.

Besoek die terrein vir voorlopige indrukke en om beenmateriaal bymekaar te maak.

Die sloot sny deur 'n aantal grafte wat nou in die kante sigbaar is. Skeletmateriaal lê binne en buite die sloot. Dit is duidelik dat die been al vir 'n ruk aan die son blootgestel was. Daar is omgeveer 18 plekke waar beenmateriaal gevind is, maar nie almal kan met 'n spesifieke graf verbind word nie.

Die skeletmateriaal is afkomstig van al die dele van die liggaam. Yster spykers en stukke hout kom ook op plekke voor saam met die been. Daar is ook grafte met sinkplaat bedekkings. Spiraal koper armbande word saam met van die langbene gevind.. Hierdie armbande was waarskynlik saam met die persoon begrawe. Dit word algemeen aangetref op argeologiese terreine. Uit die slytasie van die tande wil dit voorkom asof sommige van die mense relatief jonk oorlede is.

Die grond is 'n sagte sandsteen. Die grafte is nie in 'n reguit lyn nie, maar dit lyk asof die grafte gegrawe is op plekke waar natuurlike holtes in die sandsteen benut kon word. Die grafte is 'n klein entjie in die sandsteen ingegrawe maar is almal relatief vlak. Die behoud van die bene verskil.

Dinsdag, 19 November 1996.

Begin op die eerste graf, UP 52.

'n Klein gedeelte van die boonste deel van die skedel is sigbaar in die wal. Die skelet is waarskynlik volledig en sal 'n idee kan gee van die begrafnis pattroon en moontlike etniese verband van die grafte. Dit sal help om historiese rekords in die argiewe op te spoor wat die grafte moontlik beskryf. Ongelukkig begin dit te reën en die graf kan nie ten volle verwyder word nie. Dit word bedek teen die reën en ons gaan vroeg huis toe.

Woensdag, 20 November 1996.

Handel werk op die eerste graf, UP52, af.

Die graf is vlak. Dit is 'n bietjie in die onderliggende sandsteen ingegrawe. Die persoon het op sy linker sy gelê met sy rug na suid en sy kop aan die westelike kant. Die bene is in 'n goeie toestand, alhoewel die skedel 'n hou gekry het tydens die grawe van die sloot en dit val in stukke. Dit sal gerekonstrueer kan word. Die res van die skelet is volledig.

Die persoon was 'n jong man van tussen 25 en 35 jarige ouderdom. Die tande toon interesante morfologie. Die boonste sentrale snytande is gevyl. Die sentrale twee-derdes van die tand is vir ongeveer 3.5mm verwyder. Die tweede sentrale snytande is penvormig gereduseer. Behalwe vir die regterkantste snytand is al die ander tande in 'n goeie toestand. Die een gevylde snytand het 'n opening tot in die wortelkanaal van die tand met 'n peri-apikale abses. Dit sou vir die persoon redelike ongemak veroorsaak het.

PS: Ek is op die oomblik besig om die skedel te rekonstrueer. So nou en dan neem ek foto's en sal dit weldra êrens opsit.

Thursday, 20 November 1996.

Verwyder die tweede en derde grafte, UP53 en UP54.

Beide hierdie grafte is in 'n oos-wes rigting georienteer met die skedels aan die westelike kant.

UP53 is nie 'n volledige graf nie. Slegs die holte waar die skedel was kan van die kant af gesien word. Daar is nog klein stukkies van die skedel in die holte en ons vind ook 'n aantal metakarpale bene aan die suide kant van waar die skedel moes gewees het. Bene van beide die linker en regterhand is teenwoordig. Niks meer kan oor hierdie graf beskryf word nie.

UP54 is die bo-lyf van 'n manlike persoon, waarskynlik ook jonk. Die persoon het op sy rug gelê in 'n oos-wes rigting. Die skedel en linker en regter bo-arms en skouers is teenwoordig. Die werwels en ribbe is teenwoordig maar swak behoue. Geen ouderdom is nog bekend nie. Glasuur pêrels is op die snytande teenwoordig.

Saterdag, 22 November 1996.

Die vierde graf, UP55, word verwyder.

Die distale eindes van die tibias en fibulas steek aan die kant uit. Behalwe vir die voete is die skelet volledig. Die bene het swak bewaar, moontlik as gevolg van die opening aan die een kant. Die grafpit was uitgevoer met 'n tipe materiaal of anders is die persoon in 'n jas of tipe sak begrawe. Die ontbinde oorblyfsels van materiaal word rondom en onder die skelet gevind. Langs die skedel word 'n grof geweefde materiaal gevind. Dit sal geidentifiseer kan word. Geroeste knope word ook in die graf gevind.
In geen van die grafte sover kon 'n duidelike grafpit gesien word nie. Al die grafte is 'n bietjie in die sandsteen ingegrawe. Die materiaal wat uitgekom het, is weer gebruik om die graf te vul. Dit wil voorkom asof daar min bogrond was. Dit maak dit moeilik om die kante van die graf uit te maak want daar is geen kleur of tekstuur verskille nie. Geen kiste is by hierdie grafte gevind nie. Dit lyk asof daar 'n mate van progressie is van die een kant van die terrein na die ander. 'n Landmeters baken op die terrein sal gebruik word om die gebied te karteer.

Maandag, 24 November 1996

Vergadering met die stadsraad. Verteenwoordigers van die Nasionale Kultuurhistoriese Museum is ook teenwoordig. Dit was van die begin duidelik dat die ashoop rondom die draai van die eeu dateer . Dit moes ondersoek word en ons het Frankie laat weet. Hulle het belang gestel en sal dit wil vergelyk met 'n ander terrein wat onlangs in Minnaarstraat, Pretoria opgegrawe is.

Die raad stem saam dat die grafte geskuif moet word en dat ons dit moet doen. Hulle groot bekommernis is dat ons sal klaar wees voor hulle aan die pad moet begin werk. Tot alles amptelik gemaak is met briewe en ander papierwerk, gaan ons nog voort om die grafte wat in die sloot uitsteek, te red.

Dinsdag, 26 November 1996

Die vyfde graf, UP56, word opgegrawe.

Die graf is aan die ooste kant van die sloot en oop wes. 'n Sinkplaat bedek die graf en dit lyk asof besoekers bene verwyder het. Die graf is 'n klein ent in die sagte sandsteen ingegrawe.

Die sinkplaat bedek nie die hele liggaam nie. Die bene vanaf die femurs af was oop. Die skelet lê op sy rug met die skedel we. Die was waarskynlik vernietig in die sloot. Die regter humerus is weg, waarskynlik grafrowers (wat anders kan mens dit noem?). Die bolyf is swak bewaar en krummelrig. Fragmente van die sternum en ribbes kon herwin word. Daar is materiaal teenwordig in die gebied van die bekken, toraks en linker humerus. Die bene lê langs mekaar met die voete bymekaar en die linker voet bo die regter. Ons vind ook 'n aantal knope, stukke koper en erg geroeste yster voorwerpe. Een van hierdie was waarskynlik 'n belt gordel. Op een van die knope is die oorspronlike wit en groen kleur van die materiaal nog sigbaar.

Die persoon was baie jonk. Die epifises van die langbene is not nie versmelt nie. Die persoon was dus jonger as 24 jaar maar waarskynlik jonger as 18. Geslag is 'n probleem want die skedel is afwesig en die bekken bedek met materiaal. Dit sal eers in die laboratorium verwyder word.

Ons begin ook om die bokant van die volgende graf te verwyder. Dit sal more 'n bietjie tyd spaar. Ons dink daaraan om proaktief 'n wet uit te bring wat bepaal dat alle nuwe grafte trappies aan die kant moet hê. Trappies of ses voet wyd en drie diep. Gelukkig is hierdie nie ses voet nie.

Woensdag, 27 November 1996

Sewe en agt, UP57 and UP58 respektiewelik.

UP57 is 'n mate van 'n anti-klimaks. Alhoewel die graf oop was na die kant, was ons nie seker hoeveel vam die skelet oor was nie. En om genoeg werkspasie te verseker, het ons 'n groot stuk grond bo verwyder.

Net die regter fibula en patella en die voete is oor. Die voete is op 'n hoër vlak as die res van die liggaam en teen die onderpunt van die graf. Die is weereens in die sandsteen ingegrawe. Die regter voet is bokant die linker voet. Daar is 'n groot hoeveelheid materiaal in die graf. Dit lyk soos 'n tipe sak met klere daarby. Ons vind ook knope. Rondom die linker fibula wat nou weg is, was 'n aantal spiraal koper armbande.

UP58 is relatief vlak. Die diepste punt in die graf is sowat 50cm onder die huidige grondoppervlak. Dit is naby, effens noord en vlakker as 'n ander graf. Ons begin die hele area oopmaak en sal die vlakker skelet eerste verwyder. UP58 wys nie 'n grafpit van die kant af nie. Die graf langsaan is egter dieper en die invul wys duidelik van die kant af. Die artikulêre oppervlak vir die femur en die distale eindes van die bene in die voorarms is sigbaar.

Die boonste deel van die liggaam is nog oor. Die hande en bene is afgeskraap. Die persoon is op sy linker sy begrawe met die kop aan die weste kant. Die skedel lê op sy linkerkant en kyk noord. Die regter arm is bo die werwelkolom en die linkerarm lê voor die liggaam.

Alhoewel geen grafpit van die kant af sigbaar was nie, lê die skedel in 'n holte in die sandsteen. Die bene is bros maar goed bewaar. Die opgrawing gaan moeilik omdat die grond klam is. Dit maak dit moeilik om die been oop te maak. Ons verwyder die skedel en langbene maar besluit om 'n kans te waag op die werwels en ribbe. Ons bedek dit met karton, plastiek en 'n laag grond. Hopelik sal niemand hier torring nie.

Artefakte: Die persoon het 'n oorbel in die regteroor gehad wat ons reg langs die mastoïed vind. Dit het die been groen gevlek. Die mandibel aan die ander kant is ook groen gevlek maar ons plaas die skedel dadelik in 'n sandbed. Nuuskierigheid sal moet wag tot die been uitgedroog het. Daar is ook materiaal in hierdie gebied.

Donderdag, 28 November 1996

Reën!

Vrydag, 29 November 1996

Nog steeds. Dit gee ons darem 'n kans om by te kom met die admin.


Word vervolg.......................................................


Argeologie | Stem vir my: SAWChart | geoCities | HeeelBo


view with a browser © 1996 mloots@medic.up.ac.za GeoCities

1