Die JJ Potgieter Manuskrip

Die Boere blaas die aftog

Toe Cronje besef dat hy in getalle oortref is, het hy op 15 Februarie die aftog begin blaas. Sy aftog was bemoeilik deur dieselfde faktore wat vroeër die Britse opmars belemmer het, naamlik beweeglikheid. Die meerderheid van sy manne was voetgangers. Die meeste perde en osse was na die buiteplase gestuur, waar daar genoegsame water en wyding was. Die Britse opmars aan die oostekant het hulle afgesny van hul perde. Die opdrag om terug te val het onverwags gekom en die burgers het nie kans gehad om hul perde en osse te gaan haal nie. Cronje moes baie van die waens agter gelaat het, wat weer ‘n welkome buit vir die Britte was, wat hulle kos by Modderrivier moes agterlaat.

Cronje het aan die burgers by die Scholsnek posisie opdrag gegee om terug te val die middag toe die Britte deurgebreek het. Die burgers by Scholsnek was onder byna onafgebroke bombardement van die vyand vir drie maande. Hulle laer was die naaste aan die Britte se hoof opmars.

Daardie aand word die opdrag gegee: “Verlaat julle loopgrawe en veg ‘n pad deur na die laer.” Die burgers het hul loopgrawe gedurende die nag verlaat sonder om opgemerk te word. Hulle is eers vroeg die volgende oggend gewaar en die burgers moes toe veg om deur te kom.

Daardie nag het Potgieter saam met die laer gevlug. Dit was ‘n groot trek en die waens moes in vier kolomme langs mekaar beweeg, anders sou die trein te lank gewees het om dit teen die vyand te beskerm.

Soos wat die laer deur die veld oor die plase getrek het, het al die vroue en kinders op die plase uit vrees vir die Britte by die vlugtende laer aangesluit. Die burgers was moeg van die lang loop. Daardie nag het Jacobus Potgieter ‘n wilde perd in die hande gekry. Hy het daardie selfde nag die perd getem.

In plaas daarvan dat Cronje die waens agter gelaat het en teen volle spoed gevlug het, het hy op 17 Februarie kamp by Paardeberg opgeslaan. Dit het die Britse magte kans gegee om hulle in te haal. Vroeg die oggend van 18 Februarie 1900 begin die vyand se kanonne weer op ‘n plaas waar die vroue gebly het naby Brandvlei, teenaan die Modderrivier, te brul. Die vroue het nie gevlug toe die vyand die huis gebombardeer het nie. Die geveg het aangehou tot agt uur daardie aand. Die Boere het twaalf man in die geveg verloor. Die vyand se versterkings het binnekort daar opgedaag en ‘n sterk kolom het die noord westelike ontsnap roete afgesny. Agt uur die aand het die Boere weer uit beweeg. Baie van die osse en perde is deur die vyand se bombardement gedood. Terwyl die Britte Cronje se laer gebombardeer het, het Generaal de Wet byna daarin geslaag om ‘n pad deur te veg en Cronje te bevry. Die Britte het die laer verskeie kere bestorm, teen hoë verliese; 24 offisiere en 279 man is gedood, 59 offisiere en 847 manne gewond en 2 offisiere en 59 manne is vermis aangemeld. Aan die Boere se kant is 100 gedood en 250 gewond. Die Boere het ook baie perde en osse gedurende die geveg verloor.


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe

1