Die JJ Potgieter manuskrip

Die JJ Potgieter Manuskrip

Skermutseling by Agatha

Al die burgers van die omliggende plase het die oproep beantwoord en byeengekom op Palmietfontein, die plaas van Daniel Page. Jacobus, soos veel ander Boere, was ongewapen. Die regering het gou aksie geneem om te verseker dat almal in die kommando bewapen word deur ‘n voorraad kratte vol gewere en ammunisie onder die burgers te versprei. Jacobus was goed bekwaam in die gebruik van ‘n geweer. Hy het al die belangrikste aspekte geleer waar hy nog as jong seun aan jagtogte deelgeneem het toe hy by sy suster gebly het in die Soutpansberg. Hierdie was die eerste keer wat hy na die oorlog moes gaan. Dit was die eerste keer dat hy sy vaardighede met die geweer sou aanwend ter verdediging van sy land. Jacobus was nie bang gewees om na die oorlog te gaan nie, inteendeel, hy het die oproep met geesdrif aanvaar. Hy was drie en twintig jaar oud en het reeds vele ondervindinge met die swart stamme gehad. Toe hy slegs negentien jaar oud was moes hy vir sy lewe vlug toe hy van sy plaas in die Laeveld verdryf is. Hy het ook nog die stories goed onthou wat sy moeder hom vertel het, van die tyd toe sy ouers vir hul lewe moes vlug by Schoemansdal.

Daardie nag het die veldkornet by die kamp aangekom met ‘n brief in sy hand, wat gerig was aan die kapteins wat gerebelleer het. Daar was vyf kapteins wat in opstand gekom het. Die selfde nag nog het die veldkornet die kamp weer verlaat met sestien burgers om na ‘n sekere kantoor genaamd Agatha te gaan. Die veldkornet en die burgers het verby die stat van die eerste kaptein gegaan om te oornag naby aan die tweede kaptein, Kaptein Mesotie, se stat. Die mense het hulle toegelaat om tot naby aan die stat te kom voordat hulle die veldkornet en sy sestien manne aangeval het. Die burgers het daar geveg sonder om ‘n man te verloor. Slegs een perd van die Boere was deur Mesotie se mense gedood. Die burgers was toe by Agatha vasgekeer deur Mesotie. Daar moes hulle aanhou veg vir hulle lewens. Die manne het die kantoor as fort gebruik deur gate in die mure te maak waardeur hulle kon skiet.

Die regering van die ZAR het spoedig ‘n groot kommando gestuur om die burgers te gaan help. Toe die kommando in die vyand se rigting uit beweeg het, het die vyand met kanonne op hulle losgebrand. Die Boere het onmiddellik hul kanonne in gereedheid gebring en terug gevuur na die bosse waar die vyand vandaan geskiet het. Twee artilleriste het daar ongelukke gehad. ‘n Kanon koeël het die een burger getref en sy hand afgeskiet. Dit was net ‘n wonderwerk dat hy die gedood is nie. Die kommando het toe na die stat opgemarsjeer. Die stat is die volgende dag afgebrand. Die geveg het daarna nie lank geduur nie voordat Kaptein Mesotie na vore gekom het om wapens oor te gee. Al die wapens was verbrand. Daar was gewere, spiese en vele ander wapens. Generaal PJ Joubert het met ‘n ander weg opgemars en kort voor lank het Kaptein Sebboel ook sy wapens neergelê. Kaptein Mapit is daarna toe ook verslaan, sonder veel verlies. Magoeba het egter glad nie belang gestel om vrede te maak nie en het in die digte bosse in gevlug. Sy stat is deur die burgers afgebrand.
Generaal JoubertGen. Joubert


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe

 

  1