Hulle het besluit dat dit veiliger sou wees om nie die
pad te volg nie. Hulle het deur die veld geloop terwyl ‘n donker miswolk
oor die gebied gekom het. Op pad na die plaas waar die gewere versteek
was, moes hulle eers deur ‘n swart stat loop.
Omtrent nege uur het hulle by die plaas waar die gewere begrawe was aangekom. Hulle het die huis bekruip om seker te maak dat niemand hulle sou hoor nie. Jacobus het die ander ses manne gestop en nader aan die huis gegaan om te sien of daar enigiemand tuis was. Hulle kon stemme hoor en het ‘n lig gesien wat binne die huis geskyn het. Hulle was verras om stemme by die huis te hoor, aangesien die eienaar deur die Britte gevang was. Hulle het gevrees dat hulle verraai kon gewees het deur een van die mense wat agter gebly het en van hulle planne geweet het. Sagrys de Beer het gesê “Kom ons los die gewere. Hier sal ons gevang word. Die stemme wat ons hoor is die stemme van Boere, maar te veel Boere het by die Engelse aangesluit om teen ons te veg. Ons kan nie enigeen vertrou dat hulle aan ons kant sal wees net omdat hulle soos Boere klink nie.” Hulle het ongeveer 15 tree van die huis weg gaan staan om die saak te bespreek. Jacobus was teësinnig om die gewere agter te laat. “Grys, ons kan nie die gewere hier l los nie. Ons moet stilletjies oor die muur klim en die gewere uitgrou.” “Jy sal laat ons gevang word! Luister na die stemme. Dit is vyandelike Boere!” “Grys, dink net aan die swart dorpe wat ons nog sal moet deurgaan.” “Kotie, kom ons loop liewer in die donker. Kom ons los die gewere. Selfs al kom ons oor die muur sonder om gehoor te word, sal hulle ons hoor as ons met daardie stok van jou grou. Hulle sal ons skiet. As een van ons gewond word sal ons baie jammer wees dat ons nie eerder die gewere gelos het nie. Kotie, kom ons gaan. My bediende is by my huis waar ek twee gewere met ammunisie hou. Ek sal na my plek gaan. My bediende is getrou.” “Nou wel Grys. Ek sal maak soos jy sê. Kom ons gaan.” Die pad was baie nat en die mis was dig. Hulle het die pad nie goed geken nie en het verdwaal. Hulle het vir ‘n ruk lank rond gesoek totdat hulle weer hulle pad gevind het. Hulle was baie moeg. Die pakke was baie swaar. Hulle het tot ongeveer twee uur in die môre geloop. Teen daardie tyd was hulle so moeg dat hulle net nie meer verder kon gaan nie. Die swaar pakke het hulle afgemat. Sagrys het gesê “Kotie, ons moet hier slaap. Jy kan sien dat Ou Albert en Krisjan nie meer kan loop nie. Hulle is moeg. Jy moet na die swakste man hier tussen ons kyk.” “Ja Grys, dan sal ons maar van die pad afdraai en in die kloof gaan slaap. Jy weet, as die Engelse uitvind dat ons weg is, dan sal hulle ons spore volg.” “Ja Kotie, kom ons draai hier aan die linkerkant af. Hier is ‘n diep kloof. Hulle sal ons nooit hier kry nie. As hulle skielik op ons afkom, dan kan ons al met die kloof langs hardloop totdat ons die digte bosse vind. As ons eers daar is, dan kan hulle duisende manne bring om na ons te soek, maar hulle sal ons nooit kry nie. Ek ken die gebied te goed.” “Nou ja, goed so kêrels. Kom ons maak dan so. Kom ons draai hier van die pad af. Oom Albert, wat sê jy?. Komaan Stoffel, julle moet julle sê sê. Jy ook Willie. Jy sien, Krisjan is moeg met sy kruppel voet.” “Ja Koot, “ se Albert. “ek volg maar net vir jou. Jy moet ons lei.” “Reg so. Kom ons draai af. Ons sal hier bly tot môre na sononder. Van hier af moet ons deur die swart dorpe gaan. Haai kêrels, julle weet darem, dit is steil hier af. Oom Albert, sal jy en Krisjan dit hier af maak?” “Ja Jacobus, jy moet maar net stadig gaan. Jy sien, dit is donker. Ons kan nie sien nie en die klippe en stompe laat my gly.” “Ja Ou Albert, jy moet versigtig loop met jou kruppel been. Waar is Willie?” “Hier is hy reg agter my. Grys, jy loop te vinnig, Jy en Stoffel..” “Waar is Jan Venter?” “Hier is hy voor Sagrys. Kom ons slaap hier langs die bos. Dit is stil hier. Hier sal ons kan slaap.” “Kêrels, ons moet aanhou. Hoe laer ons afgaan, hoe steiler sal dit raak. Kêrels julle moet wakker bly, of anders moet julle lig slaap. Ons sal moet hardloop as ons klippe hier bokant ons hoor val.” |