Swaziland het gedurende die laat negentiende eeu ‘n vreedsame verhouding met die Boere behou. Die Boere het aan Swaziland beskerming teen die Pedi en die Zoeloe’s gegee, terwyl die Swazi’s die Boere weer gehelp het om geskille met die Transvaalse stamme op te los.
Cetywayo het kort nadat hy koning van die Zoeloe’s geword het pogings aangewend om sy koninkryk verder uit te brei. Die Transvalers het die gerugte behore gekom dat hy planne beraam het om eers vir Koning Mbandzeni in Swaziland aan te val en daarna die Transvaal binne te val. Gerugte het oral deur die Transvaal die rondte gedoen dat Koning Cetywayo die ondersteuning van die Britse kolonie van Natal sou geniet. Om ‘n volskaalse oorlog te verhoed het die waarnemende Staatspresident, Piet Joubert, in Mei 1875 die inisiatief geneem toe hy ‘n strook land tussen Zoeloeland en Swaziland geannekseer het om as ‘n buffer te dien. Toe die gerugte verskerp het Generaal Joubert in Julie 1875 ‘n groot kommando op die been gebring en op Wakkerstroom, ‘n klein dorpie naby Volksrus op die Natal grens, gestasioneer. Hy het gehoop dat die magsvertoon die gemoedere in toom sou hou terwyl hy met Cetywayo onderhandel het om die vrede te bewaar en die nuwe grense van die Transvaal te erken.
Die Anglo-Zoeloeoorlog was ‘n ses maande lange konflik in die oostelike Suid Afrika, tussen die Zoeloe’s en die Britse ryk. Voor die oorlog het die Tugelarivier die grens tussen Zoeloeland en die Britse kolonie van Natal gevorm. Cetywayo het gedurende die vroeë 1870's koning van die Zoeloe’s geword. Onwillig om onder die Britse heerskappy gebuk te gaan, het hy ‘n goed gedissiplineerde weermag van tussen veertig en sestig duisend man op die been gebring. Laat in 1878 het die Britse kolonialiste in Natal aan hom ‘n ultimatum gestel om die weermag te ontbind en skadevergoeding vir beweerde belediging te betaal. Toe hy nie hierop gereageer het nie het Britse troepe onder die bevel van Lord Chelmsford Zoeloeland ingeval. Die Britse troepe was swak voorberei vir die inval. Op 22 en 23 Januarie 1879 het die Zoeloe’s met ‘n oormag van twintig duisend man die Britse troepe by Isandhlwana verslaan. Verliese was hoog aan albei kante. Die Britte het een duisend sewe honderd man verloor terwyl die Zoeloe’s tussen drie en vier duisend man verloor het. Die Zoeloe’s het daarna opgemarsjeer na die Britse basis by Rorkesedrif. Hierdie keer was die Britse troepe vooraf gewaarsku en het hulself goed in gegrawe. In die daaropvolgende veldslag van Kambula op 28 en 19 Maart 1879 het die Zoeloe’s meer as twee duisend man verloor. Die Britte het in Julie ‘n teenaanval geloods en die Zoeloe hoofstad Ulundi ingeneem en die Zoeloe weerstand onderdruk.
Die westelike grense van die Transvaal was ook onder dispuut vir ‘n lang tyd reeds. Terwyl die Boere met die Britte baklei het oor die grens lyne het oorlog tussen die Tswana stamme uitgebreek. Die Barolong hoofde, Montsioa en Moshette het swaarde gekruis oor die kapteinskap, terwyl Mankoroane die Koranna hoof, Massouw, ‘n bondgenoot van Moshette, aangeval het. Massouw en Moshette het simpatie by die Boere gevind, terwyl Mankoroane en Montsioa bond genootskap met die Britte gesoek het. Baie Boere het gehelp om te veg in hierdie oorloë tussen die stamme, in ruil vir plase. Mankoroane was teen Julie 1882 uiteindelik gedwing om na vrede te roep. Paul Kruger was ingeroep om as arbiter op te tree in ruil vir grondgebied.
Gasibone, ‘n kaptein van die Tswana stam, het ‘n bende rowers op die
suidwestelike grense van die Transvaal gelei. Sy bende het die plase geplunder
en twee vroue in Julie 1858 ontvoer. Toe die Boere kommando vergelding
gesoek het, het hy het toevlug by Mahoera gevind. Mahoera het die twee
vroue vrygelaat, maar geweier om vir Gasibone uit te lewer aan die genade
van die Boere kommando’s. Toe die Boer kommando’s aanval het Gasibone na
Bechuanaland gevlug (vandag Botswana), waar hy nagevolg is en deur ‘n Boere
patrollie dood gemaak is.