Die JJ Potgieter Manuskrip

Die beleg van Fort Hendrina

Die regering het voor die oorlog verskeie forte in die Soutpansberg gebied gebou om die mense te beskerm teen die aanvalle van Magatoe, Magoeba en andere. Fort Hendrina was in Julie 1888 naby Pietersburg onder toesig van Kaptein A Zboril, die administrateur van die Transvaalse Rijdende Kommando, gebou en vernoem na Hendriena, Kommandant Generaal Piet Joubert se vrou. Die fort moes gedien het as wapen opslag plek langs die Dwarsrivier.

Hierdie forte was van vooraf opgeboude materiaal gemaak, en sodanig ontwerp dat dit maklik op enige plek opgeslaan kon word, en net so maklik weer afgeslaan kon word. Fort Hendrina was van kwart duim dik koeëlweerstand staal gebou. In 1898 was Fort Hendrina vergroot tot 9 tree in deursnee en kon tot 100 berede polisiemanne huisves.

In 1898 was die fort na ‘n nuwe ligging, suid van Louis Trichard, verskuif en herdoop as Fort Schutte. Gedurende die oorlog het die Britse troepe die fort beset en dit as Fort Edward herdoop. Die Boere van die Soutpansberg gebied het egter nog al die tyd die fort se eerste naam, Fort Hendrina, gebruik wanneer hulle na die fort sou verwys.

Die Soutpansberg kommando het vanaf Malipspoort in die rigting van Spelonken getrek toe hulle Fort Hendriena beset het. Die fort was baie sterk en dit was maar moeilik om die fort te beset sonder die hulp van kanonne. Die vyand het hulle perde ook binne die fort gehou. Die vyand het op hulle gevuur terwyl hulle die fort omsingel het. Gedurende die nag het die burgers posisies sowat twee honderd tree vanaf die fort ingeneem. Hulle het toe geprobeer om die vyand van enige kos en water verbindings af te sny om die vyand uit te dwing. 

Kort na die begin van die beleg het die vyand ‘n bevrydingskorps gestuur wat meesal bestaan het uit joiners. Jacobus Potgieter en ‘n klomp manne het gegaan om die becrydingskorps voor te keer, terwyl sommige agter gebly het om die beleg van die fort voort te sit. Toe die vyand nader kom, het Generaal Beyers die kommando bevele gegee. Luitenant Eybers en veldkornet Fanie Coetzee het bevel van die burgers van Renosterpoort, Houtbosdorp en sommiges van Blauwkop geneem. Daar was ongeveer 40 man op die vleuel wat die vyand gaan voorkeer het. Toe die vyand geprobeer by die vleuel verby te gaan, het die burgers die vyand gestorm tot op sowat vyftig tree en toe begin vuur. Daar word toe van weerskante verskriklik op mekaar gevuur. Een persoon aan die Boere se kant is noodlottig gewond. Hy het kort na die geveg gesterf van die koors wat deur die wond veroorsaak was.

Die geveg het vir ‘n hele tydjie aangehou. Nog vier Boere is gewond en een perd is in die geveg gedood. Van die vyand word twee gevange geneem, waarvan een ‘n Boer en een ‘n kakie was, en een offisier was gedood. Twee van die joiners was ook gewond in die geveg. Hulle was Piet Alberts en Jacob Schoeman. Piet Alberts, wat voorheen as vrederegter gedien, het was in die skouer gewond. Sy vader en twee broers was as krygsgevangenes op St. Helena aangehou, terwyl Piet en nog drie van sy jonger broers saam met die Engelse teen hul vader geveg het. Jacob Schoeman, wat op die kerkraad gedien het, was in die been gewond. Terwyl Japie saam met die Engelse geveg het, het sy seun in die Boere kommando geveg.

Die vyand het naderhand gevlug na hulle laer. Die Boere het daarop hulle voorberei om die laer in die nag in te val. Dit was ‘n Sondag gewees en hulle wou eers wag dat die Sondag verby moes gaan. Die Boere het nie daarvan gehou om op ‘n Sondag te veg nie. Daardie Sondag het hulle maar net geveg om die vyand van die fort af weg te hou.

Toe dit donker word, toe vlug die vyand met die hele laer. Die volgende dag het die Boere hulle agterna gesit, maar die vyand het met die muilwaens weggevlug. Die Boere het toe na die fort teruggekeer om die beleg voort te sit.


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe
  1