Op 30 April 1901 het die Britte by Heanertsburg met die
Boere slaags geraak. Die Boere het die stofwolk wat in die rigting van
Houtbosberg gekom het van vêr af gesien. Jacobus Potgieter en W van
Heerden het gedurende die nag gegaan om op die vyand te gaan spioeneer.
In die nag het hulle by ‘n swart stad op die plek waar hulle die stofwolk
vroeër opgemerk het aangekom. Hulle het in die donker van die nag
tot teenaan die muur wat rondom die stad gebou was gegaan om die stat te
bespied.
Hulle het ‘n swart man nader geroep om meer uit te vind. Jacobus het aan hom gevra wat die oorsprong van die groot stofwolk was wat hulle vroeër in die dag opgemerk het. Die man antwoord hulle dat dit slegs ‘n paar waens was wat verby gekom het. Toe Jacobus hom vra wie se waens dit was, antwoord hy dat dit aan die Boere behoort het. Jacobus het geweet dat hy leuens vertel. Hy het gesê dat daar net ‘n paar waens was, maar Jacobus kon sien dat dit laer van ongeveer ses waens was. Hy kon ook sien dat die waens in ‘n verskillende rigting getrek het as wat die man gesê het. Die waens het nie in die rigting van sy kommando getrek nie, maar in die rigting van die vyand se kommando. Daardie nag het hulle terug na die kommando gegaan, aangesien die vyand nie in hul rigting op pad was nie. Jacobus was nie bewus daarvan dat die swart man op daardie stadium al reeds deur die Britte oorgehaal was om die Boere deur die nag aan te val en om die vroue te plunder nie. Jacobus het gerapporteer wat hy wys geword het. Hy het vertel dat dit mees waarskynlik die vyand was, maar dat dit nie lyk of hulle in die rigting van die kommando op pad was nie. Dieselfde nag nog berig ‘n ander spioen dat hy die vyand opgemerk het waar hulle van ‘n ander kant af aankom. Vroeg die volgende oggend gaan Jacobus Potgieter en Veldkornet Marais om die berig te bevestig. Hulle het die hele dag met die paaie langs beweeg om te sien of hulle die vyand kan gewaar, maar het niks gesien of gehoor nie. Daardie nag, toe hulle na die kommando se wegkruipplek terug keer, vind hulle niemand daar nie. ‘n Briefie is agter gelaat wat lees: “Kom in die rigting van Haenertsburg.” Niks verder nie. Jacobus se huis was nie vêr daarvandaan gewees nie. Veldkornet Marais en Jacobus Potgieter het hulle na sy huis gehaas om uit te vind hoekom al die burgers hulle plek verlaat het. Op die plaas aangekom, het Margritha hulle tegemoet gekom en gesê :”Waar was julle die heel dag? Die hele gebied is van die ander kant af oorgeneem deur die Engelse. Die kanonne het heel dag gevuur en die swartes het amper al die beeste geplunder. Al die mense is weg! Hulle het gesê dat hulle in ‘n sekere berg sal bly en ons moet hulle daar ontmoet. Die vyand het die berge in gegaan, en duisende swartes het met die Engelse saam gegaan.” Dit het reeds begin donker word. Hulle het van Jacobus se huis na die naaste buurman gegaan om meer inligting te kry. Hulle het hom daar gevind en hom gegroet “Hoe gaan dit hier?” Hy vertel hulle toe “Die vyand het die berge in beweeg kort nadat julle twee hier weg is. Die burgers het in die rigting van Wolkberg gegaan. Die long-tom het 16 skote gevuur. Die vyand was byna by die kanonne toe die 17de skoot gevuur word. Die kanonniers het die kanon opgeblaas en gevlug. Die swartes het al die beeste en skape gevat, en al die klere en komberse van die vroue en kinders. Ook alles in die huis, ingesluit al ons kos. Hoenders en varke is dood gemaak. Die vroue was deur die swartes rond gestamp.” Dit is wat hulle aangehoor het, en dit is wat hulle ook sou waarneem. Die volgende môre vroeg wou Jacobus en Marais meer uitvind. Hulle gaan voort vandaar om nog burgers by hul huise te gaan soek. Hulle het rond gery tot twee uur in die nag. Toe sê Marais “Kom ons gaan na Wolkberg.” Jacobus het geweier om te ver weg te gaan. Hy het gesê “Sien, die swartes plunder ons vrouens en kinders en wie weet of hulle nie ook sal doodmaak nie.” “Wel, “ sê hy, “ek sal hier rond bly om na die ander burgers te soek as jy graag na Wolkberg wil gaan.” Marais se familie was in die omgewing. Hy het na Wolkberg gegaan en is daar gevang deur die vyand. Jacobus het huis toe gegaan. Hy het sy perd naby die huis versteek en die huis bekruip om te sien of die familie steeds veilig binne was. Hy het hulle nog veilig gevind. |