Die sewe manne het die kamp op 18 Januarie 1902 verlaat.
Hulle het op die 19de Januarie by die hout velde aangekom. Die hele dag
het hulle hard gewerk om hout op die waens te laai. Toe die son onder gaan,
het hulle aan die drywer, wat hulle ook gehelp het om die hout op die waens
te laai, vertel dat hulle sou ontsnap en by die kommando sou aansluit.
Jacobus het aan hom gesê om die waens terug na die kamp te neem.
Vir eers het hy geweier, maar die manne het hom uiteindelik oorgehaal.
Voordat hulle die waens verlaat het, het hulle ‘n kombers vir ‘n bok verruil. Die swartes het nie aggressief teenoor hulle opgetree nie, solank as wat hulle by die Britte gewees het. Sodra hulle egter die Britte verlaat het, het die swartes vyandig geraak. Daardie nag het hulle die bok gebraai en soveel geëet as wat hulle kon. Elke man het sy klere en een kombers bymekaar gemaak. Hulle het gewag totdat dit heeltemal donker is voordat hulle die waens verlaat het. Gedurende die dag het hulle die gebied goed bespied en hul roete beplan terwyl hulle hout bymekaar gemaak het. Jacobus het geweet waar sewe gewere met ammunisie begrawe was, op ‘n plaas daar naby. Dit was ongeveer een uur se loop tot by die gewere. Hulle planne was om daardie nag eers die gewere te gaan haal. Jacobus het ‘n stok waarmee hy beplan het om mee te grawe, skerp gemaak. Dit was die enigste wapen wat hulle gehad het. Hulle het in die Here vertrou om die oë van die swartes te verblind om hulle kans te gee om verby die swartes se stede, op pad na die kommando, te ontsnap. |