Die JJ Potgieter manuskrip

Die JJ Potgieter Manuskrip

Jacobus se jonger dae

Toe Jacobus sowat een jaar oud was het hulle na Houtbosberg getrek, waar sy vader geelhout planke gesaag het tot 3 April 1873, toe hy op die ouderdom van 59 gesterf het. Al besittings in die gestorwe boedel was op ‘n vandisie verkoop. Na die dood van Jacobus se vader het sy moeder met die hele gesin na die plaas Rustfontein in die Pretoria distrik getrek. Daar het hulle by Jacobus se oom, Christiaan Herbst gebly. Toe sy oom die plaas verlaat het, het hulle na ‘n plaas nie ver vandaar getrek, waar hulle ook nie vir lank gebly het nie. Toe Jacobus se suster in die huwelik getree het met Dirk Booysen van die plaas Vlakfontein, het Jacobus en sy moeder by haar gaan woon. Dáár het hulle vir nege jaar gebly. Die lewe was maar moeilik daar, aangesien Jacobus se moeder ‘n weduwee was en al die goedere van sy vader se gestorwe boedel op die vandisie verkoop was. Die opbrengs van die vandisie wat die administrateurs aan sy ma oorhandig het, het nie lank gehou nie.

‘n Edelman van Holland, Dewald Rijkaard het die skoolgeld vir Jacobus en sy broer betaal. Hierdie edelman was baie goed gewees vir die arme weduwee en haar gesin.

Toe Jacobus nog in Vlakfontein op skool was onder Rijkaard se sorg, het sy een suster van Soutpansberg, van die plaas waar sy vader eers gewoon het, gekom en Jacobus saam met haar geneem. Hy het daar vir drie jaar gebly, sonder om eers een keer sy moeder te sien. Hy was toe twaalf jaar oud gewees.

Op Soutpansberg het Jacobus nie weer skool toe gegaan nie. Sy swaer was ‘n baie godsdienstige man gewees. Elke Sondag oggend het hy vir almal byeen geroep vir kerk. In die middag moes al die kinders wat nog nie aangeneem was nie uit die bybel lees en hul lesse leer. Die kinders het dan die namiddag vry gehad. So het Jacobus daar by sy swaer in Soutpansberg die Christelike waardes geleer.

Jacobus se swaer het gereeld die hele familie na die veld geneem om te gaan jag. Dan het hulle kameelperde en ander wilde diere geskiet. Jacobus het baie geleer op daardie jagtogte. Dáár het hy geleer hoe om ‘n geweer te hanteer en hoe om in die veld te oorleef. Dit was die belangrikste beginsels vir oorlewing in die Soutpansberg in die negentiende eeu.

Gedurende die tydperk wat Jacobus by sy suster gebly het, het hy hierdie jagtogte baie geniet. Hy het ook gedurende hierdie tyd sy broers en susters wat hy nege jaar laas gesien het weer ontmoet. Hy het baie ondervind gedurende hierdie tyd wat hy so afgesonder was van sy moeder.

Die drie jaar in Soutpansberg het weer tot ‘n einde gekom toe Jacobus vyftien jaar oud geword het. Hy was met ‘n gejuig en blydskap weer herenig met sy moeder. Toe hulle weer terug na Soutpansberg gegaan het, het sy moeder saam met hulle gegaan. Jacobus het in 1884 hom in Houtbosberg gaan vestig, waar hy sy moeder en twee susters in sy sorg geneem het. Daar in Houtbosberg het Jacobus geelhout planke gesaag tot 1889, toe die oorlog met Magoeba uitgebreek het. Die regering het ‘n militêre kamp gestig, waar Jacobus vir vier maande gedien het vir ‘n loon van tien sjieling per dag.


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe

 

  1