Nog boere het kort daarna op die plase in die Laeveld kom vestig. Jacobus was baie bly om die nuwe intrekkers te verwelkom, maar dit was nog nie genoeg om die eensame lewe te verbeter nie. Dit het hom dus nie lank geneem nie om te trou om die eensame lewe meer draaglik te maak. Hy was toe nog maar ‘n jong seun, maar dit was te moeilik vir ‘n man om sonder ‘n maat te leef en hy het toe maar in die huwelik in gehaas.
Op 14 April 1890 het Jacobus met Margritha Jacoba Kuipers, dogter van Holba Kuipers en Margritha Jacoba (gebore Bezuidenhout) getrou. Margritha was ‘n Hollander van geboorte. Vir eers het hulle aan die verste kant van die Houtbosberg gaan woon. Nie voor lank nie was daar ‘n groot opstand onder die Majakie stam. Jacobus was die dag toe die probleme uitbreek nie by sy vrou en familie by die huis gewees nie. Die sake was so ernstig gewees dat al die mense van die Houtbosberg vir hul lewens voor die opstandige stam moes vlug. Jacobus het die gerugte van die opstand te hore gekom waas hy die dag besig was om hout te kap, sowat twee ure se afstand van die huis af.
Die toestand het sodanig versleg dat hy te voet met sy vrou na die naaste
mense in die berge moes vlug. Sy swaer, J H Oosthuizen, saam met JJ de
Beer, F de Beer en J H de Beer het hom tegemoet gekom. Alles in sy huis
was toe afgebrand deur die oproerige stam. Jacobus het dit nie eers nodig
geag om na sy huis terug te keer nie, aangesien alles in die vuur verlore
was. Die uiteinde van die saak was toe dat die regering die oproerige stamme
kom straf het.