Die JJ Potgieter Manuskrip

Die slag van Magersfontein

Lord Methuen het gewag op versterkings voordat hy weer sy opmars na Kimberley hervat het. Die Boere kommando’s was ook nou verder versterk deur die sowat sewe duisend manne van Cronje se hoof mag wat van Mafikeng gekom het. Die Boere het onmiddellik te werk gegaan om loopgrawe te grou aan die voet van die Magersfontein koppies.

Die hoof mag van ongeveer 2,500 man was in die loopgrawe, wat vanaf Mertonhalte vir ongeveer drie myl na oos, al langs die suidelike voet van die Magersfontein koppies, tot by ‘n lae heuwel, gelê het. Die Boere was goed versteek in die loopgrawe. Die loopgrawe was tussen 60 en 200 tree voor die rif en een en ‘n halwe tot twee tree diep. Daar was klein forte, wat goed gekamoefleer was, al langs die loopgrawe gebou, vanwaar die Boere kon vuur op die vyand in enige plek in die hele gebied voor hulle. Potgieter was met 600 man in ‘n posisie geplaas, byna teenaan die spoorlyn. Dit was die plek waar Cronje verwag het dat die vyand sou probeer om deur te breek.

Die res van die Soutpansberg kommando was saam met die Klerksdorp en Potchefstroom kommando’s, met die hulp van ‘n klompie Vrystaters, op die regter vleuel, sowat 25 myl noord van die Modderrivier stasie en 3 myl van die spoorlyn. Hulle lyne het in ‘n noordwestelike rigting gelê, met slegs ‘n paar loopgrawe en klein skanse. Daar was ongeveer 1,500 man op hierdie vleuel, onder die bevel van Generaal Andries Cronje, broer van Generaal Piet Cronje.

Daar was ‘n gelykte van ongeveer 500 tree aan die voet van die heuwel wat nie baie goed verdedig was nie. ‘n Paar klein forte was reg bo-op die rantjie langs die heuwel. Die rantjie het vir 5 myl aangehou in ‘n suid oostelike rigting, in die rigting van Mosdrif. Die linker vleuel het ‘n sterk posisie in en rondom Mosdrif gehad. Hierdie vleuel van 2,500 man aan die ooste van Magersfontein was sonder loopgrawe gelaat en was nie goed verdedig nie. Modderrivier stasie, waar Methuen was, was 5 myl suid van Mosdrif, met ‘n gelyke gebied tussen in. Die verdedigingslyn was ‘n totaal van 12 myl lank, van Langberg, tot Mosdrif.

Om die vyand te mislei het hulle ‘n paar forte bo-op die rantjie gebou. ‘n Totaal van elf kanonne was uitgesprei bo-op die koppies. Die loopgrawe was goed gekamoefleer met gras en struike.

Op die 10de Desember 1899, vroeg in die oggend, het die vyand die eerste kanonskote gevuur na Scholsnek. Dit was die eerste keer wat Jacobus Potgieter onder direkte bombardement beland het. Die bombardement het vir ongeveer ‘n uur en ‘n half aangehou. Drie burgers was gedurende die bombardement gewond. Generaal Piet Cronje het die burgers in die omgewing byeen geroep en gesê: “Burgers, die vyand is gereed om teen ons uit te beweeg. Ons moet een ding in gedagte hou. Om te veg en terug te val neem die lewens van 20 tot 30 burgers elke dag. Die vyand sal teen ons uit beweeg en ek sal ‘n vlieënde kommando opstel.”

Cronje het gesê dat die swak vleuels sal help. Potgieter was in een van die vleuels. Cronje het aan hulle opdrag gegee om te wag totdat die vyand teen hulle uit beweeg en dan te storm vir vier tot vyf honderd tree en te skiet om te dood en nie terug te kyk na enigiemand wat mag getref word deur die kanonne. Cronje het gesê dat ongelukkig sal daar mense wees wat gedood word, maar “Moet nie terug kyk nie! Hierdie is die plek waar ons die vyand moet oorwin!" Die burgers het eenparig belowe om hul beste te lewer.

Deur die nag van 10 Desember het die Boere kommando’s beurte gemaak om wag te staan. Kort na middernag het die vyand, met Generaal-majoor AG Wauchope heel voor, hul opmars na Magersfontein begin. Dit was koud en donker terwyl dit hard gereën het. Hulle het die koppies bereik teen sowat half vier, geheel en al onbewus van die loopgrawe reg voor hulle.

Vroeg in die oggend van 11 Desember 1899 kom die Britse magte onverwags teen die Boer posisies. Die vyand het op ‘n vleuel deurgekom, waar die Boere dit nie heeltemal verwag het nie. Die Boere het nie die eerste offisier van die Engelse gesien nie, voordat hy tot reg teen die Boere posisie gekom het. Hy het geprobeer om van die kant af waar die Boere wagte geplaas het met sy mag deur te kom. Sy troepe was kort agter hom gewees toe die Boere hom gewaar. Die burgers open vuur en skiet ‘n groot getal dood in die skemer. Wauchope, wat heel voor was, is deur sewe skote tegelyk getref. Toe breek alle hel los. Daar was totale verwarring tussen die vyand. Party het omgedraai om te hardloop, om maar slegs oor die wat agter hulle is te val en in die proses nog meer chaos te veroorsaak. Die Boere het ongeveer vier uur in die oggend begin vuur. Dit was nog steeds donker toe die kanonne begin brul.

Soos die vyand geprobeer het om deur te breek om die stad van Kimberley terug te neem omsingel hulle die Boere. Die vyand het verskeie kere gestorm, maar die burgers het die meeste van hulle dood geskiet. Na die aanvanklike verassing swaai die vyand na regs om te probeer om deur te breek op Cronje se linker vleuel, maar sonder sukses. Hulle het keer op keer gestorm, maar was elke keer deur die Boere terug gedryf.

Die bombardement het nie vir ‘n minuut opgehou nie. Die gedonder en gebrul het heeldag aangehou. Ongeveer om twaalf uur gee Cronje aan Potgieter opdrag om aan die linker vleuel hulp te gaan verleen. Hulle het tot die linker vleuel se hulp gehaas en die vyand bestorm. Die aanval was so effektief dat die vyand onmiddellik omgedraai en gevlug het. ‘n Grootskaalse terugval het onder die vyand begin. Die geveg het aangehou tot na sewe uur daardie aand.

Die volgende dag trek die vyand terug en erken nederlaag. Hulle het die slagveld verloor. Jacobus kon nie die presiese getal van die dooies bepaal nie, aangesien hy nooit kans gekry het om hulle te tel nie, en dit ook nie kon skat nie. Die vyand het hul dooies en gewondes met waens met groot spanne muile weg gery nog terwyl hulle besig was om te veg. Jacobus het eers ‘n paar dae later ‘n kans gekry om op die slagveld rond te loop. Drie dae na die slag het hy steeds tussen die dooies rondgeloop. Dit was nadat die vyand reeds drie dae gespandeer het om die dooies en gewondes weg te neem! Die Boere het aan die Britte ‘n opening gegun om hul dooies en gewondes weg te neem. Potgieter kon nie sien waar die dooies reeds weggeneem was nie, behalwe vir die hoede wat op die slagveld rond gelê het. Hy kon sien dat baie dooies en gewondes reeds weggeneem was, maar honderde het steeds rond gelê. Die burgers het later die vyand gehelp om die dooies te begrawe, aangesien die reuk ongesond begin word het. Na vyf dae was die vyand nog steeds besig om hul dooies te begrawe.

Die Boere het ongeveer 7,000 burgers in die slagveld gehad, teenoor meer as 14,500 Britse soldate. Die amptelike syfers gee 205 Britte gedood en 690 gewond, en 76 gevange geneem, teenoor 250 Boere gewond en gedood.


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe

1