Die JJ Potgieter Manuskrip
Die opstande
In 1882 was Sekoekoeni deur sy halfbroer, Mampoer, vermoor. Mampoer het
geweier om hom aan die Transvaal se reg te onderwerp en het by die naburige
stam van Mapoch (ook bekend as Njabel) skuiling gesoek. Paul Kruger en
Generaal Joubert het sterk teen Mapoch en Mampoer opgetree. Joubert het
in Oktober 1882 twee duisend man opgekommandeer en uit beweeg teen die
rebelse kapteins wat posisie ingeneem het in die grotte by Boschberg en
Vlugtkraal. Die Pedi stam het hul by Joubert se kommando aangesluit om
die moord op hul kaptein, Sekoekoeni te wreek. Joubert se weermag het die
skuilplek omsingel en die voortvlugtige kapteins uitgehonger. Die kapteins
het sterk weerstand gebied, maar uiteindelik is Mapoch met dinamiet uit
sy skuilplek gedryf. Teen die winter van 1883 het albei kapteins oorgegee.
Mampoer was tot die dood veroordeel. Mapoch was ook verhoor en tot die
dood veroordeel, maar sy vonnis is later versag tot lewenslange tronkstraf.
‘n Nuwe golf van opstand het tussen die Soutpansberg stamme in 1894
uitgebreek toe hoofman Malaboch, met die hulp van hoofman Magatoe, gerebelleer
het. Generaal Joubert het ‘n weermag van ongeveer een duisend vyf honderd
man opgekommandeer. Joubert het ook vele van die Uitlanders van Pretoria
en Johannesburg opgekommandeer. Dit het baie tot die ongelukkigheid van
hierdie Uitlanders bygedra. Die weermag het in Mei 1894 na Blauwbank beweeg
en ‘n kort, maar effektiewe besetting van Malaboch se stam onderneem. Die
opstand het toe egter onder Malaboch se bondgenote opgevlam.
Toe oorlog onder die stamme uitbreek was Jacobus Johannes Potgieter
deur Veldkornet Alberts van die Houtbosberg wyk, Soutpansberg en omliggende
distrikte, opgekommandeer. Veldkornet Alberts was ‘n gerespekteerde man
in die Soutpansberg omgewing. In daardie dae was die kommandostelsel op
baie demokratiese beginsels gebaseer. Die manne van die distrik het hul
eie offisiere verkies.
(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe