Die JJ Potgieter Manuskrip

Die slag van Malipspoort

Die volgende dag, stuur die vyand ‘n sterk mag agter die Boere aan. Die Britse mag volg die Boere tot by Skuinshoogte naby Spelonken. Toe die Boere die vyand gesien aankom het hulle op vlug geslaan. Die gras was so hoog dat dit moeilik was om die vyand te sien. Hulle kon die vyand nog duidelik sien aankom toe die vyand oor die hoogtes getrek het, maar het totaal sig van die vyand verloor toe die vyand na die rivier afgedaal. Die vyand het skielik sowat vyf of ses treë van hulle af, aan die oorkant van die rivier, tussen die lang gras verskyn. Die Boere het onmiddellik skuiling tussen die gras gesoek en begin skiet. ‘n Woeste geveg wat tot die aand geduur het, het uitgebreek. Twee van Generaal Beyers se offisiere is gevange geneem. Hulle kon die vyand glad nie sien nie en het reg tussen die vyand in geloop, onder die indruk dat dit van hulle eie mense was. Toe dit donker word het die Boere weer op vlug geslaan. Hulle het dwarsdeur die nag gevlug om soveel moontlik afstand tussen hulle en die vyand te kry.

Twee dae na die geveg het een van die Engelse troepe na die Boere gekom om by hulle aan te sluit. Die Boere het hom met ope arms ontvang. Hy het daarna baie dapper vir die Boere teen die Britte geveg. Een van die burgers, Mnr Olivier, het by Skuinshoogte van die kommando weg gedros en by die vyand aangesluit.

Generaal Beyers het die waens by die voet van die berg gaan parkeer, sodat die Boere meer beweeglik kan wees. Toe die vyand weer met ‘n groot mag teen hulle uit trek het Beyers die kommando in vier verdeel. Die eerste afdeling het noord van Malipspoort by Beyersnek, aan die voet van die berg, posisie ingeneem. Een afdeling is suid van Malipspoort aan die voet van die berg geplaas. Die derde afdeling het naby Empatel stelling ingeneem op Coetzee se plaas, terwyl die laaste afdeling by Marabastad naby Malipspoort geplaas was.

Die vyand het begin om die afdeling noord van Malipspoort, by Beyersnek, te bombardeer. Die Boere het daarin geslaag om die vyand daar vir twee dae terug te hou. Generaal Beyers en Hendrik Bronkhorst is lig gewond en Gert Meyer is by Marabastad gedood.

Die vyand kon nie daarin slaag om die Boere op die voorste linies te verdryf nie. Na twee dae se geveg het die vyand daarin geslaag om die vleuel waarin Jacobus Potgieter geveg het, te omsingel en hulle uit hul posisie te dryf. Die vyand se mag het die Boere kommando te vêr in getalle oortref. Duisende swartes het ook saam met die vyand geveg. Nadat die Boere verdryf is, het die vyand al die Boere se waens en beeste gebuit.

Die vyand het geprobeer om die hele Boere kommando te omsingel, maar die Boere het dapper terug geveg, al was hulle getalle maar min. Generaal Beyers het vir Jacobus Potgieter laat roep waar Jacobus met dertien man gelê en veg het. Hy het vir Jacobus gevra waar die mees geskikte plek sou wees vir die kommando om heen te vlug, waar daar voldoende water en kos te vinde sou wees. Generaal Beyers het geweet dat Jacobus deur daardie gebied gekom het toe hy uit die konsentrasiekamp gevlug het.


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe
  1