Die JJ Potgieter Manuskrip

Margritha word weg gestuur

Intussen het die nuus van die ontsnapping die konsentrasiekamp bereik. Jacobus het die kamp op 18 Januarie saam met die houtwaens verlaat. Die waens het op 21 Januarie sonder Jacobus en sy maats weer terug by die kamp aangekom. Die kommandant het onmiddellik vir Margritha Jacoba Potgieter laat roep. Sy het geweier om na die kantoor te gaan. Margritha het nog drie boodskappe gekry om by die kantoor aan te meld, maar het aangehou om te weier. Teen 4 uur die middag kry sy die vierde boodskap om reg te maak om die volgende oggend om 7 uur te vertrek. Hulle het nie gesê waarheen sy sou gaan nie, maar het aangedui dat sy vir ‘n reis van 7 dae moet voorberei.

Die volgende oggend word al haar goed saam met haar 7 kinders op ‘n trein gelaai. Daar was nog twee ander vrouens, een ou man van 70 jaar, en een man van ongeveer 40 jaar wat as krygsgevangene aangehou was saam met haar. Hulle moes in ‘n stinkende perde wa reis tot in Pretoria, waar hulle 24 Januarie in ‘n verflenterde tent oornag het. Haar een kind het gedurende die reis erg siek geword. In Pretoria het dit die hele dag en nag gereën. Die volgende oggend is hulle in die reën op ‘n oop muilwa gelaai en na die stasie geneem. Die arme siek kind se toestand het vinnig agteruit gegaan in die reën. Op die stasie is 23 mense in ‘n trok op die trein gelaai. Niemand wou hulle nog sê waarheen hulle geneem word nie.

Hulle het vir nog 5 of 6 dae op die trein gery. Uiteindelik het die trein by in Durban aangekom, waar hulle na die Merebank konsentrasiekamp geneem is. Die volgende dag word Margritha en nog twee ander vroue wie se mans ontsnap het geroep om verslag te gee oor hulle mans. Hulle rantsoene is met die helfte verminder. Die kinders het baie maer en uitgehonger geraak. Die medisyne wat die mense gekry het, het die kinders net al hoe meer siek gemaak, sodat die mense later geglo het dat dit vergiftig was. Om die kinders van die hospitaal weg te hou, het Margritha het haar siek kinders onder die wasgoed weggesteek.


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe
  1