Die regering het kort daarna opdrag gegee dat hulle na Modderrivier moes gaan. Die vyand het in groot getalle met die spoorlyn langs opgemarsjeer. Die kommando is toe in twee verdeel. Jacobus Potgieter het saam met Veldkornet Alberts per trein na Modderrivier gegaan. Die ander veldkornette het saam met die kommandant na Colenso gegaan. Toe hulle by Modderrivier aangekom het, het hulle vir Generaal Cronje en die ander burgers daar ontmoet. Altesame was die burgers se mag sowat 7,000 man sterk.
Voordat die Soutpansberg kommando daar aangekom het, het die burgers al reeds twee keer met die vyand slaags geraak. Die eerste keer was by Belmont, waar Generaal Prinsloo en die burgers van die Oranje-Vrystaat deur die vyand geforseer was om terug te val. Generaal De la Rey en die Transvaalse burgers het daarna by die Vrystaters aangesluit vir die tweede skermutseling by Graspan. Weereens moes die burgers terugval tot by die Modderrivier. Methuen se suksesse by Belmont koppies op die 23ste en by Graspan op die 25ste gehad was egter teen hoë verliese aan Britse kant.
Die spoorlyn het die Modderrivier gekruis by die plek waar die Rietrivier in die Modderrivier gevloei het. Die Boere wou die opmars stop voordat die Britte die rivier kon oorsteek.
Die burgers het ‘n paar lesse geleer uit hul nederlae by Belmont en Graspan. Daar het hulle geen behoorlike beskutting gehad nie. Die riviere het egter aan hulle ‘n baie sterker natuurlike verdedigings posisie verskaf. Hierdie keer het hulle hulself behoorlik ingegrawe, deur goed gebruik te maak van loopgrawe en die steil rivier banke. Nadat die Boere die treinbrug met dinamiet opgeblaas het, was daar slegs drie plekke oor waar die vyand die rivier kon oorsteek. Generaal De la Rey het verwag dat die hoof kolom al langs die spoorlyn sou opmarsjeer met die gedagte om die rivier by die drif reg langs die brug oor te steek. Bosmansdrif was ongeveer vier myl na die ooste geleë, en Rosmeadsdrif was ongeveer twee myl wes. Die rivier tussen hierdie oorgangsplekke was te diep vir so ‘n groot weermag om oor te gaan, sonder om hulself bloot te stel aan aanvalle deur die Boere.
Die Soutpansberg se burgers het posisies ingeneem saam met Cronje se manne in die loopgrawe op die suidelike banke van die Rietrivier. Hulle het die strook tussen Bosmansdrif en die plek waar die Rietrivier en die Modderrivier ontmoet het gedek. De la Rey het met ongeveer 800 Transvalers aan hulle regterkant, by die spooroorgang gelê. Sommige burgers het aan hulle linkerkant in die lang gras tussen die Rietrivier en die Modderrivier stelling ingeneem en Bosmansdrif gedek. Generaal Prinsloo en die burgers van die Oranje-Vrystaat het die gebied aan die westekant van De la Rey se manne gedek, vanaf die brug, tot by Rosmeadsdrif. Die perde was agter die manne, in die skuiling wat die styl rivier banke verskaf het, gehou. ‘n Paar kanonne is agter die manne geplaas, aan die noordekant van die Rietrivier. Die res van die kanonne was langs die spoorlyn geplaas, om die gebied voor De la Rey te dek. Die gebied wat Prinsloo moes dek het geen hulp van die artillerie gehad nie. De la Rey het opdrag gegee dat die manne hul vuur vir so lank as moontlik moet terughou.
‘n Gebed voor ‘n geveg:
"Liewe Vader, hier is ons bymekaar voor die groot veldslag môre, om tot u te bid. Ons is bang, daarom dat ons hier is, en bid soos ons nou ook doen. En daar anderkant is die Engelse, ook Christene nes ons. En hulle bid miskien ook, nes ons. Daarom wil ek U vra, moet asseblief nie nou vir die een of die ander voortrek nie, as dit U wil is, bly uit die ding uit, dan gaan U 'n ding sien môre!"
Dit was vroeg die oggend van die 28ste November, toe iemand skielik skree “Hier kom hulle!”
Toe die kanonne van agter begin brul het al die burgers begin vuur. Die vyand het onmiddellik skuiling gesoek en plat op die grond gaan lê, waar hulle vir die hele dag moes bly. Die vyand het ‘n paar keer deur die dag pogings aangewend om vorentoe te storm, maar was elke keer weer deur die burgers se Mauser vuur weer vasgepen. Die vyand het daar vir tien ure bly lê, nie in staat om te beweeg nie. Elke keer wanneer ‘n vyandelike troep probeer het om op te staan om terug kamp toe te gaan, was hy begroet deur ‘n reënval van Mauser vuur. Na die aanvanklike geweervuur het die vyand hul artillerie vuur geopen, waarop die Boere met baie groter sukses geantwoord het. Die vyand se masjiengeweer is vroeg reeds deur die Boere se artillerie buite aksie gestel.
‘n Britse kolom het na die linkerkant om beweeg, waar hulle Prinsloo se manne, wat steeds bomskok van hul nederlaag by Belmont gehad het, terug gedryf het. De la Rey het aan ‘n klomp burgers van die Lichtenburg kommando opdrag gegee om die Vrystaters by te staan. Hulle het daarin geslaag om die Britse troepe weer tot by Rosmeadsdrif terug te dryf. Aan die ander kant het ‘n paar Britse troepe daarin geslaag om oor Bosmansdrif te kom, maar was weer deur die burgers terug gedryf. Die veldslag het aangehou totdat dit begin donker word.
Na sononder het De la Rye opdrag gegee om terug te val. Ongevalle aan die Boere se kant was laag, sowat 80, teenoor die 460 ongevalle aan die Britte se kant.
Die nag na die slag van Modderrivier het die Boere terug getrek in die
rigting van Jacobsdal. Die Vrystaters het posisie by Spytfontein en Scholsnek,
ongeveer twaalf myl suid van Kimberley, ingeneem. Cronje het opdrag ontvang
om die grootste deel van sy magte vanaf die beleg van Mafikeng terug te
trek en by die magte by die Modderrivier aan te sluit.