Toe die son begin het om op te kom, kom hulle agter dat
hulle maar net so 500 tree van ‘n dorpie af lê.
“Kotie! Ons gaan gevang word!” Roep Sagrys benoud. “Kêrel, moenie so praat nie! Jy moet nie begin om wankelmoedig te raak nie. Staan op! Laat ons loop!” het Jacobus geantwoord. Krisjan kon beswaarlik praat van die koue. Hulle bondels was so nat en swaar van die reën dat dit moeilik was om te dra. Jacobus het geprobeer om die manne moed in te praat. “Haai Kêrels, kom ons beweeg. As ons dadelik aan die beweeg kom, dan sal ons warm word.” Die kêrels maak toe ook so en loop teen ‘n berg op, waar hulle die oorblyfsels van ‘n ou verlate huis vind. Die dak was aan die een kant ingeval. Hulle kry daar in die een hoekie ‘n bietjie droë hout en maak toe daarmee ‘n vuur om hulle op te warm en hul klere uit te droog. Hulle kon egter nie baie tyd mors nie. Hulle moes maar weer aanstoot. Toe hulle by Broederstroom kom was die rivier vol, maar hulle het gou ‘n veilige plek gekry om deur te swem. Toe hulle by die huis kom waar die geweer veronderstel was om begrawe te wees, vind hulle na ‘n soektog dat dit al reeds deur iemand uitgegrawe was. Agter die huis het hulle ‘n vrugteboord gevind, waar hulle groen perskes gepluk het om te eet. Die brood wat hulle saam gebring het was totaal deurweek van die reën en het al begin om te vrot. Die mis was nog swaar. Hulle loop teen die berg op en verdwaal in die digte, mistige bosse. Stadig gaan hulle terug op hul eie spore, totdat hulle weer hulle pad vind. Laat in die middag kom hulle by ‘n plaas waar, ‘n paar maande gelede, ‘n ander burger, P Naude, vermoor was. Hulle het daar in die bosse weggekruip vir die res van die dag en nag, tot die volgende aand. |