Die JJ Potgieter Manuskrip

Die inval in Natal

Ongeveer dieselfde tyd wat Jacobus Potgieter saam met die Soutpansberg kommando in die slag van Magersfontein geveg het, was daar ook in Natal hewige gevegte aan die gang, waar die Boere groot suksesse behaal het. ‘n Groot aantal Britse soldate was gevange geneem en die Britse trots was op 10 Desember ernstig geskend gedurende ‘n kort veldslag by Stormberg. Die daaropvolgende slag van Colenso het soveel verleentheid vir die Britte tuis verskaf dat die oorlog strategie in heroorweging gebring is en veranderinge aan die bevelstruktuur aangebring is.

Na die nederlaag by Paardeberg is Jacobus Potgieter huis toe gestuur. Hy was toe reeds vir ongeveer vier maande weg van sy huis gewees. Toe hy by die huis aangekom het, het hy nog steeds die trop perde van die gevange burgers by hom gehad.

Na ‘n kort rus kans van so een maand het Jacobus weer terug gekeer na die oorlog front by Burgersberg in Natal. Daar het hy beter offisiere gehad. Jacobus was egter nie gelukkig met die generaals in Natal, wat nie so goed soos Generaal Cronje was nie. Piet Cronje het soos ‘n leeu teen die ongehoorsame burgers en die oorlopers opgetree.

Jacobus Potgieter het in Natal gedien as korporaal, verantwoordelik vir die voorrade van die laer. Hy het vir alles gesorg wat nodig was; kos, klere, ammunisie ensovoorts.

Die dag nadat oorlog verklaar was in Oktober 1899, het Generaal Joubert se troepe oor die grens na Natal gemarsjeer. Die eerste doelwit was om Newcastle en Dundee, die middelpunt van die steenkool velde, oor te neem. Dit was met relatiewe gemak gedoen. Die Boere het in drie kolomme gemarsjeer. Generaal Lucas Meyer het met 4,500 man aan die oostekant om gegaan om Talana koppies in te neem. Generaal Erasmus het met 5,000 man Mpate koppies, noord van Dundee ingeneem en Generaal Kock het 750 man met die suide om geneem om die spoorlynverbinding by Elandslaagte af te sny.

Die Boere het Newcastle op 16 Oktober bereik, sonder om enige noemenswaardige weerstand te kry. Hulle het hul mars voortgesit en Dundee op 20 Oktober 1899 bereik en die dorp vanuit die heuwels gebombardeer. Die Britse generaal, Penn-Symons, het sy kamp met 3,800 man suid van die dorp opgeslaan. Die bombardement het vir ‘n paar minute aansienlike verwarring in die Britse kamp gesaai, maar orde is gou weer herstel en die Britse troepe het hulself vir ‘n teenaanval voorberei.

Die Boere se geweervuur het die Britte in die daaropvolgende skermutseling agter ‘n muur vasgepen. Generaal Penn-Symons was deur ‘n reënval van Mauser vuur tegemoet gekom toe hy ‘n poging aangewend het om sy troepe te inspireer deur die leiding te neem deur ‘n opening in die muur, en is noodlottig gewond. Die Britse infanterie het voortgegaan en die heuwel se kruin bestorm, onder geweervuur wat van die Boere bo-op die heuwel gekom het, asook van hul eie artillerie van onder af.

In ‘n kort skermutseling het hulle die Boere weggejaag, maar teen groot verlies. Toe die Britte die vlugtende Boere agtervolg, het Generaal Erasmus die Britse perde infanterie onderskep vanaf Mpate koppies en die hele bataljon gevange geneem.

Generaal de Kock se 750 man het Elandslaagte op 19 Oktober bereik. Hulle was verheug om 2 Britse treine sonder veel beskerming daar te kry. Die treine het meer as genoeg goedere gehad om te buit. Generaal White, wat in bevel van die troepe op Ladysmith was, het die grappie nie soveel geniet nie en met 3,500 man na Elandslaagte gegaan. Hy het die stasie op die 21ste bereik en die Boere, wat nog steeds besig was om die spoor waens af te pak en fees te vier, begin bombardeer. In die kort skermutseling wat gevolg het was 60 Boere gedood en 150 gevange geneem, terwyl 55 Britte gedood was en 200 gewond.

Na Penn-Symons dodelik gewond was by Talana kopies het Brigadier Generaal Yule die bevel van die kommando’s by Dundee oorgeneem. Alhoewel hy steeds vertroue gehad het dat hy in staat sou wees om die dorp te verdedig, het Generaal White hom op 22 Oktober opdrag gegee om die dorp op te gee en terug te val na Ladysmith. Hulle het hul mars gedurende die nag begin, sonder om opgemerk te word. Generaal Meyer het die volgende dag gewys dat dit nie net die Britse leiers was wat gevaarlik onnosel mag optree nie. Dwarsdeur die volgende dag was Generaal Meyer bedrywig om telegramme met Generaal Joubert uit te ruil, in plaas daarvan om die vlugtende vyand agterna te sit.

Die Boer magte van die Transvaal was toe versterk met 9,000 troepe vanuit die Oranje-Vrystaat, onder die bevel van Hoof Kommandant Prinsloo. Generaal White het besluit om die Vrystaatse troepe halfpad met 5,000 man te ontmoet en hul terug te hou om aan die troepe wat vanaf Dundee kom ‘n veilige deurgang te gee. Die twee magte het mekaar op 24 Oktober by Rietfontein ontmoet. Die Britte het die eerste rondte met artillerie gewen, maar toe ‘n kritiese fout begaan. Sommige Britse soldate het te vroeg begin met die stormloop. Die Boere het met geweer vuur van alle kante geopen toe hulle die Britse soldate oor die oop stuk veld sien aankom en die hele mag terug gedryf tot in Ladysmith. White het ten minste daarin geslaag om die Boere se opmars lank genoeg te vertraag om die Dundee magte kans te gee om die veiligheid van Ladysmith op die 26ste te bereik.

Nadat Generaal Meyer sy eerste werklike ontmoeting met oorlogvoering gehad het, kon hy dit nie meer hanteer nie en het hy onmiddellik bedank. Hy is deur Veldkornet Louis Botha vervang, wat binnekort daarna nog ‘n naam vir homself sou maak. White het besluit om vir die Boere in die heuwels rondom Ladysmith te wag. Die ontplooiing van sy troepe was chaoties. Eers het hulle belangrike ammunisie verloor toe ‘n span muile op ‘n paniek stormloop gegaan het, voordat hulle ‘n bombardement van ‘n koppie begin het waar hulle gedog het die Boere sou wees. Hulle het later agter gekom dat hulle maar net hul ammunisie gemors het, aangesien daar niemand op die koppie was nie. Die Boere het hul long-tom kanonne, wat ‘n veel verder trefafstand as die Britse kanonne gehad het, begin vuur. Generaal Joubert het toe op 30 Oktober die Britse magte van alle kante aangeval en vir White in ‘n vernederende aftog ingedwing. By Nicholsonsnek moes 954 Britte oorgee.


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe

1