Die kommando was ‘n siviele weermag. Die weermag kon nie onvoorwaardelike getrouheid van troepe vereis nie. Heel party voorvalle is later ook aangemeld waar burgers geweier het om deel te neem aan ‘n veldslag. Die ongehoorsame manne het gewoonlik om verlof gevra, wat nie geweier kon word nie. Die generaals was slegs toegelaat om op te tree teenoor manne wat sonder verlof sou dros.
Die meeste offisiere was nie gekies tot hul posisies na aanleiding van hul kundigheid of ondervinding as soldate nie, maar eerder op grond van hul sosiale posisies tussen hulle bure. Baie van hulle het nooit voorheen aktief in enige oorlog geveg nie. Die oorloë teen mense soos Magatoe en Magoeba was gewoonlik direk onder die bevel van die Kommandant Generaal gevoer. Gedurende daardie oorloë was die kanse ten gunste van die Boere. Nou het hierdie offisiere vir die eerste keer die werklikheid van oorlog en die moontlikheid van ‘n veel sterker oormag beleef. Die offisiere het voorgegee dat hulle in beheer was. Hulle het gemaak asof hulle bekwaam was om hulle manne op die slagveld te lei. Toe hulle ware gevaar in die gesig staar, het hulle egter nie baie tyd verspil om hulle ware kleure te wys nie.
Die manne wat van die slagveld gedros het, het gewoonlik huis toe gegaan, maar daar was wel somtyds vermeld dat van hulle by slagvelde as toeskouers opgemerk was. In die later stadium van die oorlog sou baie by die vyand aansluit om teen hulle eie volk en vaderland te veg.