Die JJ Potgieter Manuskrip

Die Britse opmars

Na die slag van Magersdontein verskuif die vyand hulle kamp terug na Modderrivier. Dit het ongeveer drie maande geduur voordat die vyand weer teen die Boere opgemarsjeer het. Die nuus het die burgers bereik dat daar by Colenso terselfdertyd ook ‘n veldslag, net so groot soos die een by Magersfontein, plaasgevind het. Daar het die Boere 10 kanonne van die vyand gebuit.

Die Britse teenaanval het op 11 Februarie 1900 begin met ‘n mag van ongeveer 40,000 man. Die eerste taak wat die mag na moes omsien, voordat hulle na Bloemfontein kon marsjeer, was om Kimberley eers te bevry. Kimberley was nou reeds onder beleg vir ‘n hele tydjie en Cecil John Rhodes was al op die punt om oor te gee. Methuen se weermag het opdrag gekry om Cronje se magte by Magersfontein aan te vat, terwyl Roberts se weermag ‘n wye ompad aan die ooste kant maak. Vordering was vir eers stadig as gevolg van die tekort aan behoorlike vervoer, maar hulle was baie effektief, slegs op grond van hul getalle. Die Britse mag het letterlik dwarsdeur die Boere magte gemarsjeer om Kimberley op 17 Februarie 1900 te bevry.

Toe die vyand vir die tweede keer op pad na Kimberley teen die Boere opmarsjeer het hulle by Paardeberg aan die westekant van Koedoesberg deurgebreek. Die veldslag het vir ongeveer drie dae aangehou. Uiteindelik is die vyand weer terug gedryf. Die vyand se leërmag was hierdie keer baie groter. Na die slag van Magersfontein is die vyand se mag wesentlik versterk. Toe die vyand sien dat hulle nie by Paardeberg kon deurbreek nie het hulle probeer om deur die Oranje-Vrystaat te breek, maar is deur die Boere onder die bevel van Kommandant Jacobs terug gedryf. Toe dit nie werk nie, stuur hulle ‘n kolom aan die agterkant verby, maar was weer terug gedryf deur Generaal de Wet en Kommandant A Cronje.

Die Boere het die hele Britse mag gekeer. Die Britte het toe nog verdere versterkings ontvang en op ‘n plaas aan die oostekant deurgebreek. Die Boere het ‘n kolom gestuur om die vyand af te sny, maar het nie voldoende versterkings gestuur nie.

Die vyandelike troepe was so veel in getal dat die Boere naderhand nie meer al die gate kon toestop nie. Die Boere magte was uitmekaar geruk van te veel verskillende kante terwyl hulle die vyand probeer stop. Hulle het aanvanklik ongeveer 7,000 man in die omgewing van Kimberley gehad, maar baie het op verlof huis toe gegaan, na die oorwinning by Magersfontein. Een Boere kommando het by Gruisrand teen die Britte geveg. By Blauwbank was daar 800 troepe geplaas en een kommando was by Kimberley geplaas, een in die loopgrawe by Magersfontein. Potgieter was in ‘n posisie by Scholsnek met die Soutpansberg kommando, een kommando was by Rondawelsdrift, een by Jacobsdal en een was by die hoof laer. By al hierdie plekke waar die Boere geplaas was, was hulle aktief besig om die vyand te keer, met ernstige gevegte wat by Jacobsdal, Gruisrand, Blauwbank en Rondawelsdrift plaasgevind het. Elke dag het die beleg by Kimberley al hoe meer kwesbaar geraak soos wat die gevegte voortgeduur het. Die gevegte het lank geduur en die Boere was nie genoeg in getal om so lank uit te hou nie. Die Boere kommando’s was al heeltemal omsingel toe die vyand by Rondawelsdrift aangekom het. Hulle het daar by Rondawelsdrift vir twee dae geveg voordat die vyand na Kimberley deurgebreek het.


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe

1