Laat in die middag van 20 Januarie 1902 het die sewe man
die diep kloof weer verlaat. Net sodra hulle uit die kloof gekom het toe
hoor hulle ‘n klomp swartes skree. Vinnig het hulle skuiling gesoek onder
’n bos, waar hulle gewag het tot dit donker word. Hulle besluit toe om
so vinnig as wat hulle moontlik kon deur die swart stad te beweeg. Hulle
besluit toe ook om nie na Sagrys se bediende, wat die gewere hou, te gaan
nie, uit vrees dat hy hulle sou aanmeld. Hulle sou seer sekerlik deur die
swartes vermoor word. Nie vêr daarvandaan, omtrent twaalf myl van
die bediende met Sagrys se gewere, is daar ‘n ander plek waar ‘n geweer
met ammunisie begrawe was. Hulle besluit toe om te probeer om daardie geweer
in die hande te kry.
Die mis was dig en dit was baie koud. Hulle het tot omtrent tien uur in die nag gestap, toe dit begin om swaar te reën. Die een donder op die ander. Die een blits na die ander – en die reën val! Hulle soek toe skuiling onder die bosse. Na ‘n tyd besluit hulle dat hulle nie meer verder enige kosbare tyd kon mors nie en met hul reis moes voortgaan. Hulle was byna dood gevries, maar hulle moes net aanhou. Sonder dat hulle dit besef het, het hulle in die donker van die stormagtige nag reg in ‘n swart dorp in geloop. Dit was donker en hulle kon niks sien nie. Sagrys het die gebied redelik goed geken, maar hy kon sweer dat die dorpie nie voorheen daar was nie. ‘n Hele dorp kon somtyds skielik by ‘n plek opspring. Die dorpies het uit hutte bestaan, wat van gras en klei gebou was. As weiding en water vir die beeste opgedroog het op een plek, dan kon die mense net eenvoudig verder trek en ‘n nuwe dorp binne ‘n paar weke stig. Die manne het vinnig uit die pad gespring en om ‘n rantjie geloop. Dit het so hard gereën dat die mense glad nie uit hul hutte gekom het nie. Hulle het aangehou om deur die digte bosse te loop, tot laat in die nag toe hulle weer planne gemaak het om te rus. Al hulle klere was deurdrenk deur die gietende reën en hulle was baie moeg. Hulle het in ‘n digte bos ingegaan, waar hulle onder die bosse ingekruip het en plat op die grond gaan lê. Daar het hulle geslaap vir die res van die nag. Die reën het eenvoudig net aangehou om dwars deur die hele nag te val, sonder ophou. Gedurende die nag het die temperatuur onder vriespunt gedaal. Die mans hat amper dood gevries. Jacobus se broer, Krisjan Potgieter, was veral baie sleg daaraan toe. Hy het bewusteloos geword van die koue. Jacobus het sy baadjie om sy broer gedraai, maar alles was so deurdrenk van die reën dat dit nie baie gehelp het nie. Op daardie stadium het die manne begin om moed te verloor. Hulle het eensaam en verlore begin voel. Selfs die natuur het nou teen hulle begin draai en hulle het nog ‘n lang pad gehad om te gaan, deur baie gevaarlike gebiede. |