Die sewe vlugtelinge het op 24 Januarie 1902 uiteindelik
by die kommando aangekom. Hulle was honger en uitgeput na die lang vlug.
Dit was op die sesde dag sedert hulle op vlug gegaan het.
Gedurende die laaste skof het hulle net suur pruime op pad gekry om te eet. Toe hulle by die kommando aankom het die burgers vir hulle kos en ryp geelperskes in oorvloed gegee om te eet. Die res van die dag het hulle gerus. Daar was ongeveer veertig burgers by die laer toe Jacobus en sy maats daar aankom. Daar was ook ‘n paar vroue en kinders wat van die vyand ontsnap het. Die burgers van die kommando het die sewe mans met ope arms ontvang. Jacobus-hulle was verheug om weer by die kommando te wees nadat hulle vir so lank onder die vyand moes ly. Die kommando het saam met hulle op hul knieë gegaan en die Here gedank vir die hulp en beskerming deur al die gevare op hulle pad terug na die kommando, sonder wapens. Die volgende dag word hulle deur die veldkornet geroep. “Kom aan kêrels, gaan saam met die korporaal na die magasyn om julle te bewapen.” Die korporaal het hulle met ‘n pad gelei na die magasyn onder ‘n krans. Dit was so ongeveer vyftien minute se loop van die laer af gewees. Die gewere het daar teen die krans gestaan, beskut teen die reën. Daar was ook sakke vol koring onder die krans weggesteek. Die mans kon uitkies tussen verskillende soorte gewere. Hulle het elkeen ‘n Mauser verkies. Ammunisie is van ‘n ander plek af aangebring en ook aan die mans gegee. Generaal Beyers was op daardie stadium nie daar gewees nie. Hy was by Waterberg met sy kommando om perde en voorrade by die vyand te gaan steel. Nadat hy nie veel sukses in Waterberg gehad het nie, het hy na die Pietersburg konsentrasiekamp gegaan, waar hy met ongeveer 40 manne die kamp aangeval het en 150 mans bevry het. Hulle het planne gahad om Pietersburg ook aan te val, maar ‘n klompie flouhartige burgers het hulle planne in die wiele gery. Gedurende die nag het ‘n paar burgers wat uit die konsentrasiekamp gered was na die vyand oorgeloop en die vyand van Beyers se planne vertel. Beyers se aanval op Pietersburg, met ongeveer 75 mans was nie juis ‘n sukses gewees nie, maar hulle kon darem ‘n bietjie vee buit. Die nuwe aankomelinge het die burgers weer nuwe moed gegee, maar party van die nuwe manne het kort daarna weer gedros. Hulle het slegs na die kommando gekom om inligting oor die kommando in te win en hulle dan weereens te verraai. |