Toe Jacobus die nuus aangemeld het, het sommige van die Boere op ‘n ander vleuel paniekbevange geraak en met al die kanonne en gewere terug na die laer gevlug. Jacobus en sy twintig manne het skuiling in die digte bosse geneem. Teen sononder ontvang Jacobus die bevel om na die laer terug te keer met al sy manne. Toe hulle by die kamp aankom het hulle gevind dat almal gevlug het. Nadat hulle die gebied ondersoek het vind hulle ‘n klein hoeveelheid ammunisie wat deur die vlugtende burgers agtergelaat was. Hy het aan sy manne opdrag gegee om die ammunisie in die sand te begrawe.
Toe dit begin om donker te word vind Jacobus ‘n paar burgers met ‘n kanon op ‘n koppie. Op daardie stadium het Jacobus nie gedink voordat hy opgetree het nie. Hy gee aan die manne bevel om die kanon van die koppie af te bring en gereed te maak om aan te val. Die sigbaarheid was toe reeds baie swak. Dit sou binnekort donker wees en die bosse was dig. Volgens die berigte van die spioene was dit ‘n groot mag wat aan die kom was.
Die hele Soutpansberg kommando het gevlug omdat hulle geglo het dat dit vergeefs sou wees om so ‘n groot mag teen te staan. Jacobus het egter ander idees gehad. Hy het ‘n paar man en ‘n kanon gehad. Niemand sal by hom verby kom as hy enige sê in die saak het nie. Die spioene wat die groot aankomende mag gerapporteer het kon nie die groot mag gesien het nie, maar hulle het gemeld dat die mag groot moes gewees het aangesien die mag ‘n baie groot stofwolk opgeskop het. Dit is soms nie maklik om tussen ware dapperheid en gewone onnoselheid te onderskei nie!
Hoe donkerder dit geword het, het die stofwolk al hoe nader gekom. Jacobus
kon ‘n lae rommel geluid hoor soos wat die mag nader marsjeer. Kort voor
lank het die stofwolk oor hulle gerol, maar hulle kon steeds nie die groot
mag sien nie. Soos die groot stofwolk oor hulle rol word hulle deur ‘n
swerm sprinkane oorval. Toe die klein groep burgers besef wat aan die gang
was, was hulle nie seker of hulle moes lag of huil nie. Die stofwolk was
toe al die tyd veroorsaak deur die swerm sprinkane!