Die JJ Potgieter Manuskrip

Die slag van Wolkberg

Na ‘n hele dag se gevlug, het hulle uiteindelik by die plek aangekom wat Jacobus aangedui het. Die voetgangers het daar naby vir die perde kommando gewag voordat hulle hul finale posisies ingeneem het. Die vyand het die voetgangers se kamp gewaar en versigtig genader, sonder dat die voetgangers die vyand gewaar het. 

Toe Generaal Beyers en die berede kommando na donker eers by die voetgangers aansluit, sien hulle die vyand se kamp vure ongeveer ‘n half uur se ry te perd vanaf die voetgangers se kamp. Die generaal het in die donker na Jacobus gegaan en aan Jacobus gevra om die burgers na die plek waar die hulle posisie moet inneem te lei. Jacobus het hulle daarop nog drie myl verder die berge in gelei.

Gedurende die nag het ‘n digte mis oor die gebied gaan hang. In die donker het die Britte die bosse waar hulle die Boere laas gesien kamp opslaan het, omsingel en gewag vir die son om op te kom. Die volgende oggend het die Boere egter die vyand gewaar, waar hulle die bosse omsingel het. Die mis was toe nog steeds so dig dat hulle net sowat 100 tree vêr kon sien. Onmiddellik het die Boere posisies agter die vyand ingeneem, met die voetgangers aan die een kant, en die perde kommando sowat honderd tree verder aan die ander kant. 

Toe die mis opgeklaar het, het die Boere begin vuur. Die vyand het ‘n ent teruggeval, maar die berede kommando het hulle bestorm en uit hul skuilings gejaag. Die geveg het ‘n kort tydjie geduur, voordat die vyand op vlug geslaan het. Daar was ook vele joiners wat aan die kant van die vyand geveg het. Die Boere het 13 Britte gedood en ongeveer 40 gevange geneem, terwyl daar geen een van die Boere gedood of gewond is nie. Verskeie perde en groot hoeveelhede gewere, rewolwers en ammunisie is deur die Boere gebuit. Die perde en ammunisie is onder die voetgangers versprei. Dit wat nie gebruik kon word nie, is in ‘n dam gegooi.

Die volgende dag het die Boere die bosse gefynkam en nog heelwat vyandelike troepe, wat ‘n die bosse weg gekruip het, gevange geneem. Vier lafhartige Boere, D Pienaar, C Pienaar, C Lees en M Deventer het gedros. Deventer se broer het voorheen ook al gedros om by die vyand aan te sluit.

Na die geveg by Wolkberg het die Boere weer na Malipspoort teruggekeer. Die vyand het Beyersnek beset en vir die Boere ‘n lokval gestel, maar die Boere het daarin geslaag om veilig tot by Malipspoort gevorder. 


(c) Eric Swardt (1998)
Terug na die inhoudsopgawe
  1