Die Boerboel
Hierdie inligting is veskaf deur Kobus Rust van die Suid-Afrikaanse Boerboel Telersvereniging. Kobus kan gekontak word by (0562) 31138 vir verdere besonderhede.
Waar kom hy vandaan ?
Vir duisende Suid Afrikaners, wie met hierdie honderas, genoem die Boerboel, groot geword het, is dit nie alleen interessant nie, maar ook verblydend om te weet dat die hond wat die Groot Trek met ons voorouers meegemaak het, se naam weer in volle ere herstel is.
In die begin van die tagtigerjare, het vyf manne besluit on die hond van die boereplase weereens te vind en te laat herleef. Die hond van ons voorvaders, lewende Aficana, moes veredel en geteel word tot 'n eie honderas waarop Suid Afrika trots kan wees.
In 1983, in 'n klein sitkamer van 'n skoolkoshuis op Senekal, OVS, digby die vlaktes waardeur die Trek beweeg het, het die manne bymekaar gekom, elkeen van hulle 'n Boerboel liefhebber. Die groot droom om ons eie hond 'n regmatige plek tussen die hinderasse van die wêreld te gee het gestalte gekry, die Suid-Afrikaanse Boerboel Telersvereniging is gestig.
Stigterslede
Van Utrecht uit Natal, was Johan de Jager, die eerste Voorsitter van die nuutgestigte Vereniging, met sy Rustverwacht honde, Koera en Spogter, met Rhabe Tia Tia wat hy saamry om te kom wys.
De la Rey Schoeman, ook van Utrecht, met Hofni Wagter en Hofni Ounooi.
Uit die Paarl in die suide was Dr. André du Toit van die KWV, met sy Paarl-Vallei stoet.
Van Kroonstad het Lucas van der Merwe met sy Mizpa honde, Plestiek en Flenters gekom.
Uit Senekal was Johan du Preez met sy Friedenheim stoet, honde uit die afstammelinge van die Fourie en Retif Trek.
Mev. Read kom van Warden, met haar Venterspad honde.
Die Europeërs het ongeveer 600 jaar gelede begin om deur seleksie en teling meer gespesialiseerde honde te teel. Party is bloot geteel vir die jag van wild. Sommige om die jagter se prooi te vind en aan te dra, ander om vee aan te keer of op te pas, asook vele ander gebruike.
Toe Jan van Riebeeck in die Kaap geland het, het hy vir hom 'n hond van Holland saamgebring om hom en sy gesin te beskerm teen alles wat hy mag teekom in hierdie uithoek van die beskawing.
Die hond wat hy saamgebring het was genoem die "Bullenbitjer", 'n groot, swaar "Mastiff" tipe.
Die setlaars wat Van Riebeeck gevolg het in die daaropvolgende jare het ook almal hulle deel bygedra om die grootste en sterkste honde uit hul lande van herkoms saam te bring as beskermer en die nuwe, wilde, woeste land.
Namate die pioniers dieper die binneland en die oostelike deel van Suid Afrika inbeweeg het, het die honde vanweë hulle natuurlike afsondering op verafgeleë plase meer en meer ingeteeld begin raak en het die ou hond van die Assiriërs weer na vore begin kom.
Oorlewing was van die uiterste belang en so het een van die sterkste karakter eienskappe van die hedendaagse Boerboel vasgeteel - daar was immers nie veel veeartse of apteke om die hoek nie.
Met die Groot Trek was die Boerboel reeds duidelik herkenbaar en in die tydperk daarna, op wydverspreide boereplase, het die troppe honde onverstoord ingeteel en kon slegs die grootstes en sterkstes oorleef.
Sy Trekker-gesin het aan hom een groot vereiste gestel - 'n vriend van die familie, 'n werker, wagter en vegter! Daardie pioniers kon nie opgeskeep sit met 'n ongehoorsame, buierige, vol fiemiese en sieklike hond nie - hy moes werk, sy gesin oppas, ongediertes help vang en oorlog maak!
Met die draai van die eeu het sy "oer-hond" voorkoms duidelik uitgestaan en was hy algemeen bekend a s die Boerboel, of in die ou boeretaal - Boele.
In die jare daarna, met die volkstigting en uiteindelike verstedeliking het die pioniershond weer gekruis begin raak met omtrent alles wat kon blaf. Die Boerboel was besig om te verdwyn!
Eers in die jare tagtigs het die mense begin wakker skrik en weer begin soek na die hond van die boereplase. 'n Handjievol manne het besluit om die Boerboel weereens te laat herleef…………. en die SABTV is gestig. Elkeen het een doel voor oë gehad- Africana moes herleef! Die hond van ons voorouers moes nou sy regmatige plek tussen die honderasse van die wêreld inneem.
Baie duisende kilometers van soek het gevolg……..toegewyde teling, streng seleksie, teleurstellings en vreugdes…..'n sak vol dinge, en uiteindelik was die hond van ons voorvaders skoon genoeg gestroop om geregistreer te word!
Intussen het die vereniging gegroei tot meer as vierhonderd entoesiastiese Boerboel eienaars vanaf alle uithoeke van Namibië tot die grootste stede en kleinste dorpies en verafgeleë plase in Suid Afrika. Elke jaar in November is bymekaargekom, van heinde en verre. Meesal het die honde ook saamgereis om te kan vergelyk en te beoordeel en te bespreek.
In Augustus 1990 het Mnre, Jannie Bouwer van Bedford en Lucas van der Merwe van Kroonstad as afgevaardiges van die Vereniging die eerste landwye keuringstoer onderneem. 'n Vooraf bepaalde roete is gevolg en na 5500 km is 72 uit die sowat 250 honde wat voorgebring was, geregistreer. Die droom het vorm begin kry……….
Die geaardheid van die Boerboel.
Die Boerboel is die enigste honderas ter wêreld, tussen al die gespesialiseerde honderasse, geteel vir net een doel, oppasser, waghond en beskermer.
'n Befoeterde , temperamentele hond is nie 'n Boerboel nie. As hy dikbek trek na hy raas gekry het is dit nie 'n Boerboel nie. Verkoop hom of gee hom sommer net weg, moenie dit 'n Boerboel noem nie!
Die man wat 'n Boerboel koop, koop hom vir sy geaardheid. Dit was, is en moet sy heel belangrikste eienskap bly!
'n Boerboel moet homself kwalifiseer as jou beste vriend. Hy moet weet wat jy dink, hy moet weet as jy bedreig voel, moet weet of jy 'n vreemdeling goedkeur og afkeur in jou gedagtes en dielefde voel, Hy moet weet as jy bang is - enige Boerboeleienaar sal van die noue kontak tussen die hond en sy baas kan getuig. Hy moet hierdie eienskappe van kleisaf wys. Hy sal jou vinnig met 'n gerusstellende knor laat weet:
"Ek is hier, altyd. Met my lewe sal ek jou beskerm!"
Laat jy hom toe om aan te val, brul hy soos 'n leeu en veg verbete sonder enige gedagte aan sy eie veiligheid. Geen wonder dat Aristoteles die voorsate van hierdie honde "Leontix" (seuns van leeus), genoem het nie. Ook die Romeine het geglo dat hierdie honde vanuit Asië geteel was deur 'n hond en 'n leeu te kruis.
Daar is gevalle opgeteken waar 'n enkele Boerboel keer op keer die beste afgekom het in 'n geveg met 'n volgroeide luiperd!
Kindervriend en speelmaat is hy by uitnemendheid. Hy aanvaar nie een persoon in 'n gesin as sy baas nie, hy beskerm elke lid van die huisgesin en is ewe lief vir elkeen. Die verhaal van die Boerboel wat hom tuismaak langs diw babawaentjie en daar waghou, uur in en uur uit, is legio. Die hele gesin behoort aan hom, en sy enigste taak is om sy familie verbete op te pas.
Ons oupas het die funksie van 'n Boerboel as volg beskryf:
"Bedags moet die hond met die kinders veld toe gaan om die vee op te pas. Daar meot hy vir hulle 'n haas kan vang om op die veldvuurtjie te braai vir ete. Verder moet hy hulle kan beskerm teen alle ongediertes en gevaartes wat hulle in die veld mag teekom".
Die Rasstandaard
Algemene voorkoms:
Samestelling korrek met geen opsetlik ingeteelde gebreke wat effektiwiteit belemmer nie.
Behoort sterk, stewig, en gebalanseerd te staan.
'n Indrukwekkende en in 'n mate ontsagwekkende toonbeeld van krag en effektiwiteit. Groot gebou met 'n sterk beenstruktuur.
Simmetries en gespierd.
Glad van haar.
Karaktereienskappe en temperament:
Standvastig, betroubaar, gehoorsaam en intelligent met 'n baie sterk waghondinstink wat reeds van kleins af bespeur kan word. Besonder geheg aan gesinslede en kinders.
Selversekerd en vreesloos.
Kop:
Die kop is kort en breed. Die kop, neus en bek moet in verhouding wees. 'n Aanduiding van die neusbeen se lengte behoort 10cm te wees. Die kop behoort blokkig, gespierd, diep en breed tussen die ore te wees.
Kopbeen:
Neusbeen:
Snoet:
Lippe:
Oë:
Ligbruin, geelbruin en donkerbruin na gelang van die velkleur, blou oë moet as'n ernstige fout gereken word. Groot en geset om reguit na vore te kyk. Nie uitermatig diep geset of uitpeul-oë nie. Goed gepigmenteerd / donker ooglede moet stewig wees, leep-oë moet as 'n fout gereken word.
Ore:
V-vormig, middelslag grootte. Wyd en taamlik hoog geset, sodat die bokant van die ore 'n reguit lyn met die kopbeen vorm wanneer geïnteresseerd. Lang ore, semi-erekte en regop ore bots met die standaard en word as 'n ernstige fout gereken.
Bek:
Sterk kake met 'n effektiewe byt. 'n Skervormige byt, die boonste snytande effens buite die onderste, kan as die ideaal beskou word.
Nek:
'n Goeie kop behoort 'n kragtige en gespierde nek te hê ter ondersteuning. 'n Stewige aanhegting tot die kop met 'n merkbare spierboog wat geleidelik verbreed tot by die punt van 'n aansluiting by die skouers word verlang. Die nek moet 'n eenheid met beide die kop en skouers vorm. 'n Oormatige verkorte, lang en of slap nek moet as 'n fout beskou word.
Voorlyf:
Voorbene wyd geplaas sodat 'n sterk borskas kan ontwikkel. Die bene moet steeds onder die lyf geplaas wees ten einde funksionele gebruik van die goed ontwikkelde borskas, nek en kop te verseker. Die voorbene moet reguit wees, sonder enige uit of inswaai van die knie od skouers. Sterk gewrigte. Stewige beenstruktuur met goed ontwikkelde spiere ter ondersteuning. Dik voorbene met groot pote ter ondersteuning van die algemene beeld van balans, van voor en van die kant gesien. Afstand tussen die knieskyf en die gewrig moet redelik kort wees ten einde goeie balans en beweging moontlik te maak. Die sterk borskas moet breed en diep tussen die voorbene lê. Die los vel van die nek moet inloop en styspan tussen die voorbene.
Bouvorm van die lyf:
Borskas moet sterk wees. Die borskas moet diep tussen die voorbene geplaas wees. Goed aangehegte en geronde ribbebene. Die lyf vernou effens by die lende. 'n Matige kort afstand tussen die laaste ribbebeen en die stuitjie verseker goeie balansen beweging - met ander woorde, 'n kort lende. Die rug word ondersteun deur sterk spiere van die lende. Die rug moet reguit wees maar die standaard laat egter 'n effense kromming van die lende toe - (merkbaar by jong diere). 'n Duik agter die skouer, 'n rug wat afwaarts neigof 'n kromming by die lende dui op 'n swakheid van die ribonrwikkeling en of ruggraat. Los skouerbene en knyp agter die blaaie word teen gediskrimineer.
Agterkwart:
Moet sterk en gespierd wees. Die boude moet goed gevorm wees. Die agterbene moet sterk en stewig wees. Die hakskene moet nie in of uit staan nie. Koei hakke en in-tone is ongewens.
Pote:
Groot welgevormde pote wat by die bene pas. Die tone moet nie te wyd of te nou wees nie en die kneukels moet nie hoog sit nie. Pote moet nie te plat vertoon nie en goed gekussing wees.
Stert:
'n Kort stert is verkieslik. Alhoewel lang sterte mie'n diskwalifikasie is nie, is dit nie tipies van die ras nie. Knaksterte is ongewens.
Beweging:
Die beweging moet gemaklik, vloeiend, kragtig en doelgerig wees. Goeie aandrywing deur die agterlyf met parallelle beweging van die bene. Tydens beweging behoort die reuit toplyn behoue bly.
Haarbedekking:
Kort en glad.
Kleur:
Geel, vaal, rooibruin, bruin, grou of briekwa (gestroomd). Enige kleur gekombineer met lewerkleur bek en pote is onaanvaarbaar. Wit moet sover moontlik ge-elimineer word.
Grootte:
Ideale hoogtes vanaf die skof gemeet:
Reun 66cm (26duim)
Tewe 61cm (24duim)
Foute:
Afwykings van die standaard behoort as foute gereken te word en die mate daarvan word deur die graad van die afwyking bepaal.
Diskwalifikasies:
Lomp ongebalanseerde voorkoms en/of beweging.
Te groot en/of te swaar.
Te klein en/of te lig.
Enige tekens van 'n ander honderas.
Onbeheerbare of aggressiewe geaardheid.
Te klei of karakterlose kop.
Te kort bokaak of te lanf onderkaak.
Lewerkleur of pigmentlose neus.
Skerp bek.
Te smal borskas.
Blou oë.
Koeihakke.
Krom bene.
Invou of wegstaan voorbene.
Krul of langhare.
Steekbaarde aan bek.
Swart of swartbont.
Wit of witbont.
Geen pigment in hare en vel om die oë.
Driekleur hond.
Regop ore.