Oom Faan is 'n man van baie
woorde. Sy vrou, 'tant Elbie, sê hoeka dit is daarom dat hy so baie
nonsens praat - haar woorde. Hy moet, anders het hy niks om te sê nie.
Nieteenstaande sorg dit vir heerlike afwisseling so af en toe, soos hierdie
storie oor 'n slang.
Terwyl ek en oom Faan op 'n dag dorp toe ry, kry die bakkie 'n pap wiel.
Ek spring ywerig aan die werk om die wiel te ruil terwyl oom Faan vir hom 'n
bier uit die coolbox op die bak haal.
"Gelukkig het jy darem 'n spaar." sê oom Faan.
"Dit sal 'n gebodder afgegee het as hier nou nie een was nie."
Hy vat 'n lang teug aan sy bier, en ek ken hom goed genoeg om te weet dat
hy net sorg dat sy keel goed genoeg geolie is en sy gedagtes agtermekaar is,
voor hy met 'n groot storie begin.
"Ja," sê hy, "dit het my mos eendag oorgekom.
Op dieselfde pad. So daar naby die lêboom se kant. Terwyl ek nog so ry,
toe voel dit vir my so al asof die lorrietjie so al na die een kant toe wil-wil.
Ek dog toe so by myself dat ek hoop dat dit nou nie 'n pap wiel is nie,
want ek weet dat ek mos net eergister oor 'n buffelsdoring is en die ding
nog nie reggemaak het nie. Ek ry toe maar stadiger, in die hoop dat die ding
nou nie so erg is as wat ek dink nie. Maar ek weet dis net wensdinkery en ek
stop toe maar."
Hy vat nog 'n groot sluk van sy bier en vee sy groot snor met die agterkant
van sy hand af.
"Ek klim toe maar uit," vertel hy verder. "Voor
ek om die bakkie stap om te gaan kyk na die pap wiel, kry ek toe maar eers vir
my 'n bier. Ek weet mos die wiel is pap en ek weet mos ek het nie 'n
spaar nie. So ek sal moet wag tot iemand verby kom. Dis toe ook net so
eenuur se kant en ek sit toe maar gou die nuus en luister. Na 'n rukkie
toe begin 'n man nou kriewelrig raak van die wag en soos 'n mens nou
maar is stap ek om om te gaan kyk of ek dan nou nie dalk die wiel kan
reg kyk nie."
Ekself is nou besig om te sukkel om die nuwe wiel op sy boute te kry en oom
Faan buk af om hand by te sit terwyl hy aangaan.
"Toe ek nou so omstap, toe skrik ek my amper oorhoeks. Daar
lê 'n helse slang langs die wiel. Seker maklik ses duim dik. Ek het
in my lewe nog nie so'n dik pofadder gesien nie!" raak hy opgewonde.
"Ek spring terug om die agterkant van die bakkie, en dink
toe dat dit beter sal wees as ek liewer op die bakkie spring." gaan hy
aan. " Nou nie dat ek bang is vir slange nie, maar hierdie meneer was darem
maar 'n kolos. Ek het my koud geskrik! Ek loer toe so half versigtig oor
die kant van die bak. Ja, daar lê ta. Doodstil. Ek loer 'n bietjie
verder oor die rand. Wat vir my snaaks is, is dat hy so stil lê. Toe ek
nou so mooi kyk, lyk dit so al vir my asof ek met die wiel so reg bo op
die slang kom staan het."
Die wiel is aan en al die moere opgedraai. Terwyl ek die laaste vastrekwerk
doen, maak oom Faan solank vir my 'n bier oop. Toe ek klaar is gaan hy aan,
terwyl ek my hande afvee.
"Nee," sê hy, "ek klim toe maar af om my
te gaan verwonder aan die verskriklike slang. Ek dink ek moet nou nog sy vel
by die huis hê. Toe ek onder by die slang kom toe lyk dit vir my so al
asof die slang met sy bek aan die wiel vassit. So wragtag!"
"Jy sal my nie glo nie." lieg hy. "Die slang het
so mooitjies met sy tande in die wiel te lande gekom. Nou die dikke slang moet
ek hê... Ek gaan toe maar versigtig nader om te kyk of hy nou nog lewe.
Ek gee hom so skop aan sy stert, maar dit lyk asof hy morsdood is. Ek vat hom
toe versigtig aan die stert ,maar hy sit te vas. Ek trap toe op 'n staduim
per ongeluk op sy stert. Met die trap lyk dit asof die wiel stywer word. Ek
trap weer en jou waarlik! Nou dat ek die petalje so beskou kom ek agter die
dik slang is nie rêrig so dik nie. Wat gebeur het, is dat die lug alles
uit die wiel in die slang in gelek het. Dis hoekom hy so dik is."
Die lag wil my oorval waar ek daar langs die pad staan en luister na oom Faan,
maar respek laat my myself inhou.
"Net daar kry ek toe mos 'n plan." sê oom
Faan. "Ek begin by die slang se stert en trap die lug terug in die wiel
in. En soos ek trap word diewiel stywer en stywer. Toe ek al die lug klaar in
die wiel getrap het, gee ek die slang 'n knoop agter die nek en so kon ek
toe darem stadig aan by die dorp kom."