|
|
Ek is Kobie, gebore in 1968, opgegroei aan die Wes-Rand in Krugersdorp, Suid-Afrika. Gematrikuleer aan H.T.S Nic Diederichs in 1985, B.Sc. Rekenaarwetenskap verkry te P.U. vir C.H.O in 1989. Na my Nasionale Diensplig begin ek as Programmeur/Systeem Analis by die Stadsraad van Krugersdorp te werk in 1991 tot 1998. Tans doen ek kontrakwerk op AS400/RPG 400/IV (ILE) as Programmeur vir Tshukudu B.V in Nederland.
Schantell is in 1972 gebore, haar eerste 2/3 jaar opgegroei in Zimbabwe (Rhodesië) en daarna ook in Krugersdorp. Sy het gematrikuleer aan Noordheuwel Hoërskool in 1990 en as Klerklike Asst. gaan werk by Trustbank, Krugersdorp. Ons het mekaar in haar matriekjaar leer ken (alle eer aan Tania Hamman/Kempenaars), en is in Januarie 1993 getroud. Na Jaco se geboorte het sy bevordering gekry tot "Tuisteskepper". Ek persoonlik dink sy is onderbetaald en word nie waardeer nie.
Jaco is in Maart 1995 gebore. Op twee kon hy al 'n bal goed skop, krieketkolf en golfstok swaai, en die bal slaan. Vandag is hy nog mal oor balspeletjies. Afgelope somer het hy leer sonder sy sywielietjies fietsry, 'n groot prestasie vir hom (sy maatjies ouer as hy, en nederland waar almal fietsry, sukkel nog) Hy is gek op "Star Wars", tel vlot tot by 30, kan die dae v/d week en maande opsê (danksy Schantell). Jaco praat ook byna vlot Nederlans (moenie Afrikaans vergeet nie). Jaco is tans in Groep 1 aan die Koningin Beatrix Basisschool te Nieuwegein. Kinders in Nederland gaan al op 'n ouderdom van 4 skool toe.
Theo was in November 1997 gebore en was net 6 maande oud toe ons Nederland toe kom. Met hom praat ons Afrikaans in die huis. Hy loop en hardloop die wereld vol, skop ook bal al net so goed, speel en baklei lekker saam met Jaco. Hy praat en gesels al net so lekker saam. Schantell gaan op Vrydae na "Gymklas" en dan verf en teken Theo saam met die ander maatjies.
Ons het Augustus 1998 in Nederland aangekom, en ons gevestig in Nieuwegein, so 10km van Utrecht af. Jy kan Utrecht bereik met verskeie maniere nl. Fiets (30 min), motor (10 min), sneltram (20 min), waarvan fietsry die lekkerste in die somer is. Jy kan oral uitkom met 'n fiets, byna die nasionale vervoermiddel naast NS.
Ons het tog besluit om terug te keer na ons eie land, ons eie mense en huis na 18 maande in die laag lande. Dit was 'n wonderlike ervaring en het veel geleer van die "Hollanders" se kultuur.
Indien jy meer wil weet oor hervestiging in Nederland en wat benodig is, gee ons 'n e-mail, ons sal help en advies gee waar ons kan.
|
|