Hier volg 'n klompie gedigte wat
uit my eerste digbundel,
"Liebanem en ander
gedigte", kom:
Terug na Gedigte
Kliek op die titel om die gedig te lees:
ek voel die maagseer en sooibrand
van hierdie gemorskoslewe, maar
my skeurbuik op diè plesierboot
ly weer skipbreuk as ek myself beskou -
spekvet en gesond, suksesvol en
geondersteun deur vriende en familie ...
en tog, God, is ek honger!
die vleis, brood, vrugte en wyn,
die smake, temperature en teksture
van my wegneemlewe vrot sonder U
wat is hierdie orgaan, geskape na U beeld,
en uit my moeder se water gelaat nou meer
as slegs 'n warm derm
wat hardlywig en spasties maal
aan die slukstof wat drup
in die mond en plons in die bloedput ...
en wat is hierdie titanic meer as
'n gevalle ark - ingesluk deur U vis van genade -
wat seesiek en verwerpend klou
aan die hange van u firmamentele ararat?
bring my na die feesmaal waaroor U so spog,
sodat ek die stowende, tuisgemaakte kos
wat U opkook en braai en bak
in my groot mond kan afdruk
totdat ek versadig en vaak
aan die slaap kan raak
in die arms van 'n Engel
die senings van ons samelewing skud los
en die beendere in Esegiël beweeg
saam met 'n rukkende man, vasgeheg
aan sy klankbesoedelende, betonbrekende,
stof-stukkend-stampende lugdrukboor
voor my venster ...
ek skree: hou op, die geraas maak my mal!
spanning is 'n snaakse ding: hoe hoër dit tril
hoe laer boor sy diamantpunt na onderare
in die bloedige, musiekgepaaide, geadverteerde
omgekoopte en valsgestemde liggaam se dele
en die limfkolle op die grond (oliekolle, dooie troeteldiere,
bloed, urine, suurreen, ensovoorts ...) lewe
asof daar vel oorgetrek moet word en
asof vleeswording 'n verskoning is vir stilte-lose,
siel-soekende bloubloedliggaampies ...
kyk! daar breek nog iets ... ek wonder wat
maar liefde bak brood uit klippe en maak manna
van die skilfers in ons mondhoeke ... uit ons sielshoeke ...
en koeke van tyd val uit die vreesbevange
voorbrandoonde in os trotse grootwordkombuise
ja, die ongoddelike pyn van opbouing, afbreking,
herbouing, opknapping, aanbouing en uiteindelike
sloping van hierdie lyfomvattende lewe, mergel ons
stofmeel tot stofblom en slinger ons
soos spuitnaalde in mekaar se arms in
die sagtheid van 'n roomruikende, skoon,
gesykousde, gesjampoede, omhelsende vrou
wat skaterlaggend haar neek oopgooi en
haar heupe soos skerp naels voerentoe stoot,
wemel vlamagtig in die bytende koelte
van 'n winternag volstrate vol staal vol lig
en waar haar pieperige, dogtertjie-patetiese en o,
so irriterende opkykstemmetjie die koolsuur-
gasinhoud van so 'n nag verhoog, brandskok
die sweismasjien in my siel hare kale
soebatwoordjies tot skamele grootwordreste
en slaan staalkonstruksies, soos baard en ereksies,
haar hand van afhanklikheid in warm as
maar die vrou en niks behalwe die vrou
feniks haarself gou reg en kom oor
die skeuring van die laaste naelstringvelletjie
en vladder onswak, dinamies, wys, polsend
soos 'n skaars vlinder uit haar papie-slaapsak -
pragtig oppad na die vlam van ware liefde
waar sy weer kies:mot in kers
(in kombuis (in kraamsaal (in haar twintigs
(in limbo (in eensaamheid (in ouetehuis
(in testament (in graf)))))))) ...
of ribbebeen-onafhanklike vryheid
in stralende harmonie
met 'n bevryde, vrug-onafhanklike
vlamgenoot!
jy en ek is alleen
jy kyk na my - 'n duidelike son lok jou
ek kyk na jou - daar is 'n snelweg in jou oë ...
ons oë fonkel steeds van die hitte van die nag:
die dartel van die wyn,
die geur van die maal
en die lig van die dans
ons trek ons skoene uit
ons baadjies gly af soos sous oor vleis
ek trek my hemp uit en gooi dit om jou nek
sodat die sweet daarin
jou klam en warm laat voel
ek trek jou siel uit
terwyl jy aan myne vasgroei
en as ons na mekaar uitreik
en vind
ontplof my brein
en spat die grysstof en vonke
teen my klankdigte skedelwande
die lyf terg die klere soos die masker
die libido van die swetende gehoor
en die lyf bult teen die strelende ligvingers
op die verhoog, terwyl die musiek nader dans
en lok-draai soos 'n pornografiese vleisvlam ...
die lyf lag!
die karnifore gooi drank in ... hou geld reg ...
klap mekaar op die skouer en verskuif belde:
eers val daar 'n pienk donsding -
'n blinkende verwagtingshorison;
inkbevlekte vingers wikkel rondom toutjies,
en as die lyfkous van taal daal
gryp die skare na hulle verbeeldinge ...
die visnetdrade draai die volume harder
en die ferm figuur lag harder, draai om ...
'n leer-ietsie val - nou gil almal!
... en as die figuur weer omdraai, ontbloot
twee groot hande met spellingnaels
twee tepels aan die dronk ongeloof ...
vraatsug vroetel aan vrees,
die lyf wriemel dat die inhibisies bewe
en al wat oorbly is die vol-stywe broekie ...
finale tarting - die kunsgreepknoop!
wat skuil agter die masker ... die broekie?
jambiese aanmoediging ... alles val ... chaos:
Skok! Ketter! Bliksem! Dis 'n man!
hier stan ek - kaalgat, penorent
en ek skryf my kaalgat gedigte op jou maag!
my simbalende siel swaai vreesloos
met die tromme en trompette
na die nok van die skitterende kosmos
maar onder die stellasies, buite sig
klap die verslawende sweep en lag die rooi mond
van die wreedste nar ooit
voordat ek jou verloor het, het jy
my soos yskoue roomys in die sandkorrels
van ververlate eiland-strande laat bollemakiesie:
spoel-spoel, gety oor my kop
suig-suig, soutborrels om my binneste!
nadat ek na jou begin verlang het, het ek
ons seewiere, jellievisse en bloublasies gevang,
geweeg, te lig bevind en teruggejaag ...
dit is baie soos die verhaal
van Cuchulain van Mehurfna ...
sodat ek kon aangaan met my lewe, het ek
skulpe begin versamel, geleer hoe om branderplank
te ry, lewensredder geword en uiteindelik
afgetree as diepsee-visserman
ek soek deesdae nuwe kontinente ...
noudat ek van jou vergeet het, kyk ek
na ou foto's van verliefde paartjies op strandbankies
... jammer ons s'n kon nie ontwikkel nie ...
'n klein seuntjie lê en staar
na 'n helder tapisserie teen sy kamermuur -
twee swart voëls met wit-pers borsies
in twee hande wat nou vuurpyle lanseer ...
(maar eendag ...
slegs leë doppe en dooie okselknoppe?)
skielik gryp die bloubang veervente mekaar
en vlieg verskrik gangaf
oor speelringe, boublokkies, geweertjies,
rekenaars, fietse, kaal meisies ...
al met fabelagtige pienk plafonne langs
waar wit duifvere blink blits
tot skielik in 'n lugnet van glas, nag -
bruin koeverte, aktetasse, driestuk-pakke,
koue huismure, skreeuende vleisbondeltjies,
vuil beddings en omheinde voël-voerbakke ...
maar die hande kom en haak hul los
en plass hul, strelend oor die pikkende
snawels, in 'n silwer kou vol klokkies en spieëls
waar hulle sonder om knus op te pof
mekaar se vliegvere uitpluk soos papegaaie ...
die seuntjie draai sy gesig in sy kussing in
en voel hoe die trane in sy baard kriewel
kan die atome en spinnende niksies
wat ons dae omplof en omkernoorlog
die dood ontwrig of ontduik?
sal die molekules in die selle
van ons liggame se stofstorms
die dood met 'n warrelwind verwar?
gaan die lou plasma in ons gladde are
wat ons saambloei en hier boei
die dood misplas?
wil die spinstrome in ons spierbondels
wat knoop en ontvou en kramp
die dood raakstoei en vas val?
moet balans om ons begin
en eindig met 'n skrale waarborg dat
die dood die lewe afwissel?
is diè selle, strome, bloed en balans
die labarinte en laboratoriums waar
die dood verdwalend na die siel soek?
het jy al ooit 'n potloodstreep
dwars oor 'n hart getrek
met die punt
wat diep insteek ...
en het jy al die bloed
daaruit gesien
as dit vlek
soos ink?
kan jy jouself nou
sonder spieël of pruik
vierkantig in die oë kyk
en weet jy wie jy is en wat jy hier doen ...
of gooi jy ook
soos 'n verkleurmannetjie
jou lyf en tong
rusteloos en roekeloos rond
Baie dankie dat jy my gedigte gelees het!
E-pos my asseblief en gee kommentaar en kritiek - ek kan dit vat!
home | main page | jokes | cartoons | Afrikaans | e-mail | add to site | poetry | quotations