Let wel: Hierdie blad is nog in aanbou!
Kom asseblief gereeld hierlangs om te sien hoe my storie vorder.
vir
Orius Pret
Kliek op die deel van die boek wat jy wil lees | |||
|
|||
Proloog tot Orius Pret |
|||
Hoofstuk Twee: Die Prins |
|||
Hoofstuk Drie: Breekware |
|||
Hoofstuk Vier: Oom ZIpes hou partytjie |
|||
Epiloog tot Orius Pret |
Dit sou 'n gewone lewe wees. Met gewone dae en gewone
mense om sy ervaring as toeris in die Heelal 'n deeglike te maak. Onvergeetlik
natuurlik, maar gewoon. Hy wou lewe ervaar soos almal dit ervaar. Hy sou
geensins inmeng in die voorbereidings vir die reis nie. Maar 'n doodgewone ramp het 'n wese soos hy gestamp deur die dun lagie mis aan die rand van sy werklikheid, en hy het in die leemte van ons ewige hier-en-nou beland. Hier kon hy die volheid van die Niks ervaar - die doodgewone niks ... en die kalm eenvoud van die dood. Die onbekende het hom aan die hand gevat, hom gestroop van sy persoonlikhede - die identiteite en skatte van sy hart; die lamlendige verlede in sy geheue en die wysheid van sy planeet - en hom uiteindelik losgelaat ... Hy het van Ryk tot Ryk rondgesweef, in die baarmoeder van die Moeder. Koninkryke is oopgevou en varse, nuwe lig is aan hom toegeken en hy, die Vonk van Liebanêm, het dapper en Jorik-agtig die lewe wat 'n doodgewone vrou aan hom geskenk het, aanvaar. Dit was sy eienaardigste lewe. Hy was van die begin af anders: alleen, vol vreemde idees en draadwerk. Hy het die dag en nag gemeng en met groot liefde en agterdog die onbekende gesoek en verwag. * |
Karlos se ouers is dood. Hy weet dit nog nie. Hy is agt jaar
oud en die oorhelder lig van die spreekkamerligte flits rond in sy wye donker oë. Hoekom is hy hier? Hy is mos nie siek nie. Hy was nog nooit siek nie. Maar die ontvangstannie het die skool gebel en gesê die drywer kom hom haal. Dokter het gesê hy moet sommer direk na die spreekkamer gaan, verby al die ander siekes. Maar hy is nie siek nie! Kan daar iets fout wees? Moet hy nie gou huistoe bel nie? Miskien het Mamma gereël dat hy weer by Tannie Mart gaan bly vanmiddag, en dan kom haal sy hom weer later sommer hier by die spreekkamers. Dis naby en hy hou van die ou tydskrifte. Dokter hou ook van hom. Nog altyd. Maar wanneer kom Dokter dan nou? Karlos skrik. Voor hom staan 'n ander man. Nie hulle dokter nie. Hierdie man - bleek, kalm en professioneel-koud (met sy twee-staalarm-en rubbernek-luisterdier-wat-hom-aan-die-keel-beet-het) lig ewe skielik vir klein Karlos op en plak hom op die dun, hoë bed neer. 'n Sweetdruppel trippel blink oor die man se bros wang. Die manier hoe hy dit ignoreer en sukkel om sy woorde uit sy mond te kry skree verraad. En hy weet dit. Die pragtigste kind wat hy nog ooit gesien het, wat nou beenswaaiend voor hom sit, se lewe moet nou deur nuus wat hy bring verwoes word. Hy haat dié deel van sy werk! Wat moet 'n tiener in adolessensie sonder 'n pa en 'n ma doen? Wat gaan deur 'n seun se brein as hy sulke nuus moet verwerk? En hoekom moet mense deesdae op sulke aardige maniere sterf? Nog vrae sis deur die dokter sy kop: Hoe sê mens vir 'n agtjarige kind sy ma en pa is doodgeskiet in hulle motor in die middel van die stad? Koelbloedig op die sypaadjie gelos. Dit kom uiteindelik uit. Helder oordag, soos 'n dief - onvermom. Geen tweede opinie vir hierdie skalpel-woorde nie: die onverwagte sprong - die oop-oop woorde: "Ek is jammer, Karlos. Jou ma en Pa is vanoggend in 'n skietvoorval oorlede. Daar was niks wat enige-iemand vir hulle kon doen nie. Karlos het eers gedink die stilte tussen en na die dokter se woorde is dieselfde, maar dit was heeltemal verskillend. Die tweede stilte het geraas! Die koesyne, plafon, die spreekkamer se lang wit ligbuise, die bont mat, die wit jas vol stokkies en penne, die gebed teen die muur ... die sweetdruppel, die suigstokkies onder die tafelkalender - alles het liggies begin tril. Die spiere in die wit mure het rukkende rooi wange en naar tonge geword terwyl hy die dokter se woorde soos babers in 'n amper-leë dam in hom voel rol-spat en krul het - hopeloos, desperaat en blink van laaste modder - totdat dit tot 'n hoop vrot vleis onder in sy afgestompte soutpan-wese weggesink het. |
Sewe dae voor die Piering
Dit is Somer en net na een in die middag in die Middestad. Dis warm! Al die mense loop op dryfsand vandag, dink hy terwyl sy skedonk hom vrylaat en die deur toeklap. Lang stroke drywende grys sand wat deur die son en al sy weerkaatsings teen die wolkekrabbers gesmelt word.
Party van die mense is besig om weg te sink. Die smouse dryf op tamatie-kissies; bedelaars met tinkelingel-bekertjies, vals kitare en ellendige stemme was al 'n slag onder en het weer opgekom - gestremd. Boemelaars hou aan parkbankies vas en Juppies ski op die dryfsand, getrek deur hulle aktetasse en selfone.
Almal in die mal stad hou skaars kop bo water.
'n Skeertuig gly rakelings by Karlos verby en torpedo in 'n parkeergarage in. Hy trap versigtig op die sypaadjieblokke om die teerpappery te vermy en gryp uiteindelik vas aan die vrotgeroesde, gladgegrypte trapreëling van 'n klipgebou. Nou loop hy op teen die deurgetrapte trappe en gooi sy halfgerookte stompie in 'n bak vol sand.
Dit is koeler in die gebou, maar die lug ruik oud. Nadat hy eers behoorlik verdwaal, staan hy gefrustreerd en kyk hoe, wat seker die oudste hysbak in die stad moet wees, stadig afveg tot op sy vloer. Kon Anton nie maar die moeite gedoen het om 'n plan van die verdomde pad hierheen te teken nie? Die houtdeur van die hysbak gaan onder protes oop, so al asof dit weet die mense wat in en uitklim is daar teen hulle sin.
Toe hy wil inklim, keer die soet-stink geur van goedkoop parfuum wat bo-oor nog goedkoper parfuum gespuit is hom. Die twee vet laat-middag-eters redekawel so 'n bietjie met hulle oë wie eerste moet uitklim, sê dan iets van hoe "nice die baas is en skinder al klik-klak met die gang af. Hy hoor nie hoe hulle sy "sexy gat" begiggel toe die deur toegaan nie.
Hy verkwalik Anton vir sy swak rigting-wysing. As ons effens terugstaan sal ons egter sien dat die hitte van die dag, Karlos se haat teenoor die vernedering wat hy nou moet deurmaak en sy ongeduld met die lewe en homself op sy vriend geprojekteer word. Hy lees die graffiti teen die een muur: "We are having a ball, but not everybody is dancing!" die hysbak stop met 'n rukking en hy klim teen die trap wat deur die vloer en die afsakkende hysbak gevorm word uit.
Nou is hy darem lus vir 'n "nie-rook-nie" siggaret! Hy stap met die lang gang af en gaan staan met soveel trots as wat die sweet-druppel in sy oog hom toelaat, voor 'n toonbank. Terwyl hy wag vir die verrimpelde ou tannetjie om haar rekenaar uit te pluis, staar hy met haat, depressie en intense frustrasie na die swart bordjie bo sy kop. Hy spel die woord letter vir letter, wonder vinnig of dit nie dalk twee woorde moes gewees het nie, en betrap homself waar hy dit hard-op sê:
"WERKLOOSHEIDSUITKERINGS" - wat 'n koue woord.
Die tannietjie agter die toonbank draai uiteindelik na hom, haal haar kettinkie-bril stadig af en sê met die stem van 'n skilpad wat op sterwe lê, "Jaaaaa, Meneer?" Hy wys sy papiere. Op 'n pateties-meganiese wyse leopard-crawl dié siek, ou, spreekkamer-agtige woorde, te same met 'n onuitstaanbare vrot asem oor haar droë, fynbehaarde lippies: "Sit vir my 'n oomblikkie, asseblief." Sy gee hom 'n vorm om in te vul.
Net soos al die baie ander vorms wat hy op skool, in die weermag, toe hy begin werk het en toe hy afbetaal is moes invul, het dié een ook nie plek vir al sy name nie. Hy druk dit in: Louis, Stéfan, Petrus, Renten, Whis-lok, Jan-Allen. Wat het sy Ma-hulle besiel? Familienaam: Pretorius. Wonder bo wonder is daar plek vir sy noemnaam: Karlos. Geboortedatum: 1968-09-07. Huwelikstatus: ongetroud. Hy vul die res van die besonderhede baie sorgvuldig in, alhoewel hy gebelg voel deur al die persoonlike vrae. Wat wil hulle met al die inligting doen, wonder hy. Dalk aan al die maatskappye in die land 'n omsendbrief stuur om hulle in te lig oor sy onvermoë om 'n werk te hou, sy lae selfbeeld en depressie wat hom amper laasweek laat selfmoord pleeg het. Miskien moet hulle sommer 'n "Wanted, dead or alive" kennisgewing op lamppale en poskantoormure plak, sodat almal kan weet dat hy 'n lekker groot ou mislukking is. Die mislukking wat sy standerd sewe houtwerk-onderwyser hom belowe het hy sal word.
Hy kyk na al die ander werkloses om hom. Hy voel die spanning in sy lyf as hy besef dat hy deur die invul van hierdie vorm homself deel maak van hulle klub. 'n Klub waaraan niemand wil behoort nie! Hy sit die skryfbord langs hom neer, haal sy sigarette uit sy sak, sien nog 'n "nie-rook-nie" bordjie en sit die pakkie terug. Hy begin moedeloos en woedend weer kyk na die mense om hom. Het hulle nou skielik meer geword? Hy sweet ook meer as net-nou. Dit voel asof hulle almal gehoor het hy is hier en gestroom het om die frats wat hy geword het te kom aanskou.
Alle soorte mense sit op die bankies al met die mure langs en wag. Maer vroutjies met snotneus kindertjies, mans met kroeg-oë en lastige hande, swartmense met wit geduld in hulle oë. Bitter ou ooms en tannies - desperaat en pensioenloos.
Ek kan nie hier wees nie, dink Karlos. Ek kan nie hierdie mense, hierdie plek … hierdie siek plek langer verduur nie! Net toe hy op die punt is om op te staan en te loop, voel hy die persoon langs hom se blik op sy skouer soos 'n kalmerende hand. Karlos kan nie verstaan hoekom hy nie dié man vroeër opgemerk het nie. Hy is heeltemal anders as die res van die groep, waarvan meeste, nou in vergelyking met hierdie briljante figuur, soos dooies lyk wat in die dryfsand buite in die strate moet gaan vrek - genadedood vir hulle ellendige bestane!
Hy lig sy oë na die man se gesig. Hy sien sy spierwit, teruggekamde hare, 'n flambojante snor (ook wit) en helder-blink vaalgrys oë wat die gekrulde lippe tot 'n glimlag bevorder. Hy het 'n wit safaripak aan met oorblink, swart-gepoleerde skoene en daarby die witste kniekouse wat hy nog ooit gesien het. Dit lyk asof die ou oom presies weet wat Karlos voel. Maar ons man is so uit die veld geslaan deur die kyk in die oom se ë dat hy heeltemal vergeet van sy vernedering en woede. Soos 'n klein seuntjie vou hy sy hande skaam inmekaar en kyk af grond toe.
Verwarring en verbasing gaan gewoonlik hand aan hand, maar die onverstaanbare stroping van selfbejammering kom selde só - sonder konfrontasie of woorde. Karlos ken die man van geen kant af nie, en tog het die man die vermoë om in die stilte van een enkele oomblik van persoonlike chaos en verwarring, aan die kern van sy siel te raak met sy oë! Skielik sê die ou man met 'n sagte, strelende stem in Karlos se oor: "Die Here is hier, by jou, my kind. Daar is niks om te vrees nie. Alles sal regkom. Jy moet geduldig en oop wees. Alles sal regkom. Jy sal sien."
Met sy werkloosheidstjek in die een hand en 'n onaangesteekte sigaret in die ander, stap Karlos Pretorius, gedagteloos terug na sy motor en ry huistoe.
Die dryfsand stol.